Voëltjie fluit Siya Kolisi is nuwe Bokkaptein

Siya Kolise – dalk Bokkaptein. (Foto: Twitter)

Moenie verbaas wees as die nuwe Springbokafrigter, Rassie Erasmus, die Stormers se Siya Kolisi as sy nuwe Springbokkaptein aanwys nie.

Dit sal veral in die Kaap ʼn gewilde keuse wees en Erasmus sal die regte knoppies in sy eerste jaar druk.

Kolisi se aanstelling as die 60ste Springbokkaptein is dalk genoodsaak omdat die huidige kaptein, Eben Etzebeth, nog beseer is en só ook Warren Whiteley.

Erasmus het reeds sy eerste Bok-oefenkamp vir April beplan en soos ek hom ken, sal hy nie lank wag voordat hy sy kaptein aanwys nie.

Etzebeth het nie oortuig sedert hy by Whiteley ná verlede jaar se derde toets teen Frankryk oorgeneem het nie. Ja, ja, ja, dit was onder Allister Coetzee se afrigting, maar kom ons wees eerlik, die Springbokke het ook nie oortuig nie. Onder Etzebeth kon die Bokke slegs vyf uit 11 toetse wen vir ʼn wenpersentasie van 45,4%.

Die Superspens waar Erasmus vir sy kandidate moet gaan delf, is maar bra leeg, soos ʼn kos- en yskas ʼn paar dae voor betaaldag.

Kolisi (Stormers), Burger Odendaal (Bulls), Ruan Botha (Sharks) en Franco Mostert (Lions) is die vier Superspanne se huidige kapteins, en Francois Venter lei die Cheetahs in die Pro14-reeks. Net Kolisi is seker van sy plek in die Bokke se beginspan en skakel die ander kandidate dus uit.

Wat in Kolisi se guns tel, is dat Erasmus vertroud met hom is, want hy het hom as’t ware by die Westelike Provinsie en Stormers grootgemaak sedert Kolisi die eerste keer in 2010 vir die WP begin speel het.

Erasmus sal na alle waarskynlikheid twee kapteins (absurd) moet aanwys, een vir die toets teen Wallis op 2 Junie in Washington en dan die ander een vir die eerste in die reeks van drie toetse van 9 Junie af teen Engeland.

Oorsee is Duane Vermeulen (Toulon), Pat Lambie (Racing 92) en Bismarck du Plessis (Montpellier) op die kortlys vir die Walliese toets, maar die kans is goed dat hulle op dieselfde dag in die eindstryd van die Franse Top14-reeks betrokke sal wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Petrus ·

Kolise nuwe Bokkaptein.
Indien dit ‘n voeltjie is wat die nuus versprei, dan moet hulle ‘n volstruis soek, want Kolise moes al verlede jaar die Kaptein gewees het. Hy is dit waardig en speel kookwater rugby.

wicus ·

GEE HOM N KANS , SOLANK HY NET NIE SO BAIE SEERKRY SOOS DIE VORIGE WP KAPTEINS WAT BOK KAPTEINE WAS NIE

Callie ·

Nou toe ek hier lees onthou ek weer van die sport rugby. Het mos afgegradeer op my DSTV. Dit was mos die sport waar 23 swak, onderpresterende Suid Afrikaners oor die laaste 4 jaar so teen almal oor verloor het. Maak maar Kaptein net wie daar is. Selfs met ou Rassie en al die kwotas daar gaan hulle nerens heen nie. Moeg op hulle geskreeu.

Arie ·

Dit het niks met beste kaptein of beste speler te doen nie, dit gaan oor die regte knoppies druk – politieke knoppies

Kwagga ·

Politiek, politiek, dit is geen wonder rugby is al net so swak nie.

Veritas ·

Ek kyk eerder Aussie-krieket as Springbokrugby. Wat Erasmus nie besef nie is dat hy gaan naam weggooi met SA se vierde bestes in Springboktruie. Hulle lyk goed in oefeninge omdat hulle teen swak spanne oefen. Laat ons maar aanvaar dat Springbokrugby in sy peetjie is. Die top 100 spelers verdien groot geld elders.

Paul ·

Die haas uit die hoed getrek? Ek neem aan dit maak maar twee plekke op wat transformasie aan betref. So Rassie sal maar nog so ‘n paar hase moet nader sleep.

Jan-Fiskaal ·

Die artikel moes eerder gelees het “nuwe Proteakaptein”. Die Springbok is lankal nie meer die NSA se embleem nie. Al hoekom die “Springbok” nog daar is, is om toeskouers na die stadions te lok!
“Time to let go, Maroela Media…”

Wessie ·

Ek wens net die sportredaksie wil ophou om na (verál) Dwayne Vermeulen en Lambie as moontlike kandidate te verwys!
Hulle wil oorsee speel, en Vermeulen se beste dae is lankal verby.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.