Die vroeë aanduiding is dat die vonke kan spat in vanjaar se Oos-Kaapse Super 12-reeks, met net een van die eersterondewenners wat in die tweede ronde weer bo was.
Swallows (Mdantsane) en Spring Rose (New Brighton) het weliswaar nie gespeel nie, maar slegs Progress (Uitenhage) kon dusver albei sy wedstryde wen.
Hy het Buffaloes, een van verlede week se leeutemmers toe hy met die Grens-kampioen afgereken het, 17-3 geklop om sy onoorwonne rekord te behou.
Albei kampioene wat verlede week gesneuwel het, is terug op die wenpad.
Gardens (Uitenhage), wat sowel die Super 12- as die Oostelike Provinsie se Grootuitdaag-kampioen is, het Breakers (Queenstown) 55-5 oorrompel.
Oos-Londen Polisie, Grens se kampioen, het die Walter Sisulu-universiteit (Potsdam) 25-3 slae gegee.
Park (Port Elizabeth), wat sy eerste wedstryd teen Spring Rose verloor het, het 27-10 teen Cambridge (Oos-Londen) gewen; en PE Harlequins, wat die knie voor WSU moes buig, het Despatch 37-27 geklop.