Voorbereidingsreeks: Pumas se Eddie knak Cheetahs

Rassie Erasmus, die direkteur van afrigting van die Suid-Afrikaanse Rugbyunie, het raakgevat met sy voorstelle in die voorbereidingsreeks om die spel vinniger te maak, soos om nie tyd te mors met straf- en doelskoppe nie.

Nou moet hy ook net ’n meesterplan prakseer om die getjommel in die skrums te beheer.

Vrydagaand se voorbereidingswedstryd tussen die Pumas en Cheetahs in die Mbombela-stadion in Nelspruit is as ʼn skouspel ontwrig oor die aantal strafskoppe wat die skeidsregter Stuart Berry uitgedeel het.

’n Hele rits daarvan was in die skrums, waar die Pumas in die eerste helfte die oorhand gehad, maar die Cheetahs in die tweede helfte beheer oorgeneem het.

Hoeveel skrums het nie in duie gestort nie of moes oorgevorm word nie?

Boonop het die Pumas-stut Morgan Naudé ’n geelkaart in die tweede helfte gekry nadat hy die senter Chris Smith gevaarlik hoog gevat het.

Die Pumas het die kragmeting met 22 – 15 gewen nadat hulle rustyd met 12 – 6 voor was.

Die eerste (en enigste) drie is eers ná 69 minute en 43 sekondes gedruk toe die Pumas se losskakel, Eddie Fouché, oorgeskuif het.

Ondernemende hardlooprugby?

Van Fouché gepraat: nadat hy ’n paar weke gelede swak pale toe geskop het, het hy Vrydag met ses uit sewe pogings geslaag… en die kroon gespan deur al sy span se punte aan te teken. Was dit nie dat hy langer as 60 sekondes vir ʼn strafskop gebruik het en dit toe gekanselleer is nie, sou sy vertoning vlekkeloos gewees het.

Die Cheetahs kon so maklik die gelykmakende punte aangeteken het toe die heelagter Rhyno Smith in die 80ste minuut nie ʼn aangee van Rosko Specman kon beheer nie, met die doellyn wat ʼn paar meter voor hom gewink het.

Maar ʼn mens weet nie of hulle dit verdien het nie.

Punte: Pumas 22 (12): Drie: Eddie Fouché. Doelskop: Fouché. Strafdoele: Fouché (5).

Cheetahs 15 (6): Strafdoele: Ruan Pienaar (3), Frans Steyn. Skepdoel: Rhyno Smith.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.