Voormalige Bok vir 8 jaar geskors

Chiliboy Ralepelle. Foto: ANA.

Die voormalige Springbok-haker Chiliboy Ralepelle is vir agt jaar uit rugby geskors weens die gebruik van verbode middels. Die Suid-Afrikaanse Instituut vir Dwelmvrye Sport (SAIDS) het sy skorsing vandag bevestig.

Die skorsing is ’n doodsteek vir die 33-jarige se rugbyloopbaan. Hy het 25 toetse vir die Springbokke gespeel.

“Die speler het positief vir die verbode anaboliese middel Zeranol op 17 Januarie 2019 getoets,” het SAIDS in ’n verklaring gesê.

Ralepelle het aanvanklik die aanklag teengestaan en het die geleentheid gekry om sy kant van die saak te stel. Die verhoor is ’n hele paar keer oor ’n periode van ses maande uitgestel.

“Ralepelle het twee keer vantevore positief vir die gebruik van verbode middels getoets terwyl hy oorsee rugby gespeel het. Die Zeranol-geval is dus die derde keer wat hy binne tien jaar positief toets.”

Die onafhanklike tribunaal het beslis dat die oudspeler van die Bulls en Sharks tot 27 Januarie 2027 uit rugby geskors is. Hy het egter 21 dae om teen hul bevinding te appelleer.

Aphiwe Dyantyi (Foto: SA Rugby)

Intussen wag die Springbokvleuel Aphiwe Dyantyi ook op sy tugverhoor.

Die 25-jarige speler wat in 2018 internasionale rugby se nuweling van die jaar was, het in Julie 2019 ’n urinemonster tydens ’n Springbokoefenkamp ingedien wat positief vir verbode middels getoets het.

Dyantyi het destyds die gebeure op sosiale media bevestig, maar aangevoer dat hy onskuldig is en het gevra dat ’n B-monster ook getoets moet word. SAIDS het egter kort daarna bevestig dat sy B-monster óók positief teruggekom het.

In ’n onderhoud met die Irish Times het SAIDS se uitvoerende hoof Khalid Galant gesê dat Dyantyi se verhoor binne die volgende twee maande sal plaasvind.

Die staat van inperking het weliswaar die proses vertraag, maar Galant glo dat die betrokke laboratoriums weer intussen heropen het.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Michael 1 ·

Wat het geword van hard werk om jou doel te bereik nou word kortpad gevat en dit is reeds bewys dat as jy nie by die reëls hou nie gaan jy op jou neus val.

Pieter ·

BEE en kwotas bevorder sulke optrede, hard werk bestaan nie want dit word nie erken nie. Is dan moeilik om by meriete uit te kom dus kortpaaie word gesoek. Mag later as rassisme geklassifiseer word.

Elmarie ·

Siesa! Skaam jou man, jy moet ‘n voorbeeld wees vir jong seuns en kyk nou…

tweeling ·

As jy nie wil hoor nie moet jy maar voel, jy moes van die begin af lewenslank geskors gewees het, dit sal ‘n voorbeeld vir ander kansvatters wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.