Voormalige Haai-man deel van All Blacks-afrigterskorps

John Plumtree. (Twitter@1NewsSportNZ)

Die voormalige afrigter van die Sharks, John Plumtree, sal waarskynlik een van die All Blacks se bestuurspanlede onder die nuwe afrigter, Ian Foster, wees.

Plumtree is tans die Hurricanes se breier in die Superrugby-toernooi en dié Nieu-Seelandse franchise het vanjaar tot die halfeindstryd van die toernooi deurgedring.

Volgens die Nieu-Seelandse media sal daar Donderdag ’n aankondiging oor Plumtree se toekoms gemaak word. Hy sal na verwagting die All Blacks se voorspeler-afrigter word.

Daar word bespiegel dat Plumtree se assistent gedurende sy dae in Wellington, Jason Holland, die Hurricanes-leisels by hom sal oorneem.

Plumtree was vyf jaar lank die Haaie se hoofafrigter gewees, terwyl hy ook ’n hele paar wedstryde vir die Durbanse span gespeel het. Hy is in Nieu-Seeland gebore, maar is met ’n Suid-Afrikaanse vrou getroud.

In 2013 was hy Ierland se hulpafrigter, waarna hy die pos as Chris Boyd se assistent by die Hurricanes aanvaar het. Hy is verlede jaar as hul hoofafrigter aangestel.

  • Die uiters suksesvolle Steve Hansen het ná die All Blacks se bronsmedaljewedstryd teen Wallis gedurende vanjaar se Wêreldbeker-rugbytoernooi uit internasionale rugby getree.

Hy het ’n pos as Toyota Verblitz se direkteur van rugby in Japan aanvaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.