Voormalige Walliese speler loof Libbok se spel

Manie Libbok. Foto: Hansie Linde.

Manie Libbok is Saterdag welverdiend as die speler van die wedstryd in die Stormers se kragmeting teen die Ospreys aangewys.

Die 24-jarige losskakel het met sy vlugtige voetwerk, spoed en akkurate skopwerk beïndruk om met ’n afgeronde vertoning vorendag te kom.

Ná die afloop van die wedstryd het ’n Walliese ontleder die voormalige o. 20-Springbok se lof besing.

Tom Shanklin, ’n agterspeler wat in 70 toetse vir Wallis uitgedraf het, meen dat Libbok se vertoning ’n klinkklare bewys is dat hy oor genoeg talent beskik om eendag vir die Springbokke te speel.

“Hy is uitstekend op die aanval en verdedigers is op hul hoede vir hom. Sy spoed en versnelling beteken dat hy net ’n klein gaping nodig het om ’n verdediger te flous. ’n Mens sukkel om hom te têkkel want hy is baie vinnig,” het hy gesê.

Volgens Shanklin onderskei Libbok se aanvalsvermoë hom van ander Suid-Afrikaanse losskakels.

“As hy deel van die Springbok-opset sou word, kan dit dalk ’n invloed op hul spelpatroon hê. Met Libbok in die no. 10-trui kan hulle dalk met meer kreatiwiteit speel.”

Oorsese joernaliste en rugbykenners kla deesdae dat die Springbokke hopeloos te veel klem op verdediging plaas, terwyl hul spel as’t ware met ’n wiegelied vergelyk kan word.

Tog het Rassie Erasmus al vantevore gesê dat hy sal aanhou om ’n speler soos Handré Pollard bó ’n avontuurlustige losskakel soos Finn Russell te kies omdat hy wedstryde wil wen.

Tog het Libbok ongetwyfeld sy voete by die Stormers gevind nadat hy vroeër sy rugby in Pretoria en Durban gespeel het.

Hy is tans die voorste puntemaker in die Verenigde Rugbykampioenskap.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.