Voorry dalk Jaguares se kwesplek in SA

Die voorry kan dalk die Jaguares se kwesplek wees op hul Suid-Afrikaanse toer wat Saterdag met ’n littelosmaker teen die Bulls in Pretoria begin.

Die Argentyne speel ook twee Superrugbywedstryde op 17 Februarie teen die Stormers op Nuweland en ’n week later teen die Lions op Ellispark.

Slegs twee van die vyf stutte in die toergroep het ervaring van Superrugby: Nahuel Tetaz Chaparro, wat op die koop toe in 41 toetse gespeel het, en Felipe Arregui, met twee toetse agter die blad.

Javier Díaz, Nicolás Leiva en Juan Pablo Zeiss sal in Suid-Afrika die eerste keer met Superrugby kennis maak.

Diaz het die afgelope Saterdag sy buiging in die Amerikas-rugbykampioenskap (ARK) vir die Argentynse Vyftiental van die bank af teen Amerika gemaak.

Die toergroep van 29 sluit ook twee nuwelinge agterlangs in, maar wat die res betref, is dit ’n baie ervare groep met 15 spelers wat in 30 en meer toetse gespeel het.

Sebastián Cancelliere en Bautista Delguy, albei buite-agterspelers, is die Superrugby-groentjies in die agterlyn. Eersgenoemde het wel reeds in vyf toetse gespeel.

Die span word gelei deur die flank Pablo Matera, ʼn veteraan van 46 toetse, al is die Poemas se toetskaptein Agustín Creevy ook ingesluit.

Die toerspan (getal toetse tussen hakies) –

Stutte: Felipe Arregui (2), Javier Díaz, Nicolás Leiva, Nahuel Tetaz Chaparro (41), Juan Pablo Zeiss.

Hakers: Agustín Creevy (71), Julián Montoya (41).

Slotte: Matías Alemanno (41), Tomás Lavanini (38), Guido Petti (33), Marcos Kremer (12).

Losvoorspelers: Juan Manuel Leguizamón (82), Tomás Lezana (21), Pablo Matera (kaptein, 46), Javier Ortega Desio (40), Leonardo Senatore (49).

Skrumskakels: Gonzalo Bertranou (9), Martín Landajo (78).

Losskakels: Joaquín Díaz Bonilla (2), Juan Martín Hernández (74).

Senters: Nicolás Sánchez (62), Bautista Ezcurra, Santiago González Iglesias (38), Matías Orlando (31).

Buite-agterspelers: Emiliano Boffelli (11), Sebastián Cancelliere (5), Bautista Delguy, Ramiro Moyano (20), Joaquín Tuculet (51).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.