Voorryman as Boland se uitblinker bekroon

Ivan Pekeur (BRU-president), Clinton Theron (speler van die jaar) en Randall Modiba (Boland se hoofafrigter). (Foto: BRU)

Dis nie aldag dat ʼn stut as ʼn bond se speler van die jaar bekroon word nie, maar dis vanjaar in die Boland die geval.

Die vaskopstut Clinton Theron is, luidens ʼn verklaring van die Bolandse Rugbyunie (BRU), op grond van sy volgehoue goeie vertonings en sterk werketiek met dié toekenning beloon. Hy het boonop vanjaar meer tyd op die veld deurgebring as enige ander Bolandse speler.

Sy prestasie laat ʼn mens sommer terugverlang na die dae toe Bolandse Springbokstutte soos Chris Koch en Piet Spiere du Toit die All Blacks laat sidder het (al is Theron ’n gebore en getoë Wes-Rander wat by die Lions al ’n proeseltjie  Superrugby gekry het).

Die flank Ludio Williams is as die spelers se speler van die jaar aangewys.

Wat die toekenning des te merkwaardiger maak, is dat Williams verlede jaar nog klubrugby gespeel het.

Hy het geweldig beïndruk met sy spel in sy eerste beroepseisoen, en hom in die Kavaliers se opdrafspan gevestig.

Die senter Edwin Sass is as die Boland se agterspeler van die jaar, en die haker Clemen Lewis as die beste voorspeler aangewys.

Lewis en die bond se kaptein Zandré Jordaan het eweneens pette ontvang om erkenning te verleen aan onderskeidelik die 150ste en 100ste wedstryd wat hulle vanjaar vir die bond gespeel het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.