Voorspelerstryd deurslaggewend teen La Rochelle

Deon Fourie op die aanval. (Foto: Hansie Linde.)

Die Stormers speel die naweek gasheer vir La Rochelle in ʼn Kampioenebekerwedstryd en die Kapenaars is maar al te bewus dat hulle met gedugte teenstanders kragte meet.

Die Franse klub is die rugbymeesters van Europa nadat hulle verlede seisoen met Leinster in die eindstryd van die toernooi in Dublin afgereken het.

Hulle is egter ook oorgehaal om weer op die wenpad te kom: Die einste Leinster (met oud-Springbokafrigter Jacques Nienaber nou óók in sy geledere) het die afgelope naweek die bordjies verhang danksy ʼn sege van 16 – 9.

Maar met sterre soos Gregory Alldritt, Jonathan Danty en Will Skelton in sy geledere is La Rochelle beslis nie ʼn span wat jy sonder handskoene aanpak nie.

Dan sal Raymond Rhule en Dillyn Leyds se plaaslike ervaring ook vir genoeg agtergrondkennis oor Suid-Afrikaanse toestande sorg.

“La Rochelle se agterspelers kan opwindende spel opdis, maar ek dink die grootste gevaar is ongetwyfeld hul voorspelers. As hulle eers ʼn bietjie momentum aan hul kant het, kan dit ʼn lang dag op die speelveld word,” het Deon Fourie gesê.

Die 37-jarige Wêreldbeker-wenner het spelers soos Alldritt en Danty uitgesonder, terwyl Levani Botia ook dinge nag by die afbreekpunte kan maak.

Fourie is egter opgewonde om op die Kaapstad-stadion se splinternuwe speeloppervlak uit te draf.

“Verlede jaar het ons almal so ʼn bietjie rondgegly, maar die nuwe oppervlak pas by ons manier van speel. Hopelik kan ons vir ʼn rugbyskouspel teen ʼn baie sterk Franse span sorg.”

Die wedstryd begin Saterdag om 15:00 en die aksie word regstreeks op SuperSport uitgesaai.

  • Kampioenebeker-punteleer:

Groep 1:

  1. Bordeaux-Bégles: 5 punte
  2. Bristol Bears: 5 punte
  3. Bulls: 4 punte
  4. Lyon: 2 punte
  5. Saracens: geen punte nie
  6. Connact: geen punte nie

Groep 2:

  1. Toulouse: 5 punte
  2. Bath: 5 punte
  3. Harlequins: 5 punte
  4. Racing 92: 2 punte
  5. Ulster: geen punte nie
  6. Cardiff: geen punte nie

Groep 3:

  1. Northampton Saints: 4 punte
  2. Exeter Chiefs: 4 punte
  3. Bayonne: 2 punte
  4. Munster: 2 punte
  5. Toulon: 1 punt
  6. Glasgow Warriors: geen punte nie

Groep 4:

  1. Leicester Tigers: 5 punte
  2. Sale Sharks: 4 punte
  3. Leinster: 4 punte
  4. La Rochelle: 1 punt
  5. Stormers: geen punte nie
  6. Stade Francais: geen punte nie

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.