Voorste Wallaby oor dwelms geskors

James Slipper (Foto Youtube)

Een van Australië se voorste spelers is vir twee maande geskors nadat hy die tweede keer vanjaar skuldig bevind is daaraan dat hy kokaïen gebruik het.

Rugby Australië se uitvoerende hoof, Raelene Castle, het Donderdag bekend gemaak dat die stut James Slipper, kaptein van die Reds en ʼn man wat al in 86 toetse gespeel het, in Februarie en vroeër die maand weer positief vir die gebruik van dié dwelm getoets is.

Hy is benewens die skorsing ʼn boete van A$27 500 (sowat R259 000) opgelê en sal weens die skorsing uiteraard nie vir die Wallabies se drie tuistoetse in Junie teen Ierland oorweeg kan word nie.

Castle het verduidelik dat die eerste oortreding in Februarie volgens Rugby Australië se beleid oor verbode dwelms ʼn vertroulike aangeleentheid tussen die spelers, die beheerliggaam en die mediese personeel is.

“Die tweede oortreding het ʼn verpligte termyn waartydens die oortreder nie mag speel nie en word na ʼn dwelmtribunaal verwys. Hulle het beslis dat James die minimum tydperk waartydens ʼn speler nie mag speel nie, opgelê word en met A$27 500 beboet word.”

Castle sê hulle is bewus dat Slipper ernstige persoonlike probleme het en werk reeds sedert Februarie ten nouste saam met hom. “Ons verseker dat James die nodige hulp en ondersteuning ontvang. Dit sluit mediese behandeling in.”

Slipper sê in ʼn verklaring dat hy aan depressie ly en mediese behandeling daarvoor ontvang.

“My persoonlike omstandighede verskoon onder geen omstandighede my optrede nie, en ek begryp nou dat ek nie die probleme reg aangepak het nie.

“Ek neem volle verantwoordelikheid vir my optrede en vra my familie, die Queensland Rugbyunie, Rugby Australië, my spanmaats, afrigters en alle rugbyondersteuners om verskoning.

“Daar is nie in sport plek vir onwettige dwelms nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.