Voortdurende pos van breiers nie die antwoord

Bestendigheid is een van die belangrikste boustene van enige rugbyspan se sukses.

Is dit nie een van die vernaamste redes waarom die Suid-Afrikaanse rugbyspanne vanjaar (en in die verlede) só swak in die Superreeks gevaar het nie?

Ja, selfs die Lions, wat Saterdag in Christchurch in die eindstryd van die reeks teen die Crusaders speel, het vanjaar soms wipplank gery. Dán was dit op en dan weer af.

Kom ons stel dit in perspektief. Die vier Suid-Afrikaanse spanne se wenpersentasie in hul 64 wedstryde in die groeprondes was slegs 45,3% – dis mos druip op universiteit!

Die vyf Nieu-Seelandse se wenpersentasie in 80 wedstryde was 62,5%. Die vier Australiese spanne se wenpersentasie was ook 45,3%.

Kom ons begin voor, héél voor, by die afrigters.

Hoeveel afrigters het die Lions (en die Cats en Golden Cats toe hulle saam met die Cheetahs meegeding het) sedert 1996 gehad? Veertien.

Hoeveel afrigters het die Bulls sedert 1996 gehad? Elf. Hoeveel het die Sharks gehad? Nege … en dan praat ons nie eens van die Stormers nie.

In teenstelling hiermee: Hoeveel afrigters het die Crusaders sedert 1996 gehad? Slegs vyf.

Ja, dis seker maklik om ’n wenspan af te rig en ja, dis seker maklik om mede-afrigters soos Wayne Smith, Robbie Deans en Steve Hansen te gehad het.

Maar daar was ook maer jare, soos tussen 2009 en 2016 toe die Crusaders net twee keer in verlooreindstryde gespeel het.

Het hulle toe van Todd Blackadder ontslae geraak? Het hy toe ’n spelersbegroting van R90 miljoen voorgestel om ’n wenspan te koop?

Het een van hul mede-afrigters (lees Paul Treu) uit ’n vergadering gestorm omdat daar (heeltemal tereg) nie na sy insette geluister word nie?

Hoekom is die vaardighede van ’n talentvolle speler soos Curwin Bosch, en baie ander, nie ontwikkel nie?

Hoekom kry so baie van ons spelers in kontaksituasies seer?

Die antwoorde lê almal by die afrigting …

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Frans C ·

Die antwoord is nie so eeenvoudig om net die afrigters te blameer.’n Mens moet jouself die vraag afvra hoekom daar so baie afrigters in ‘n span is. Daar is voorspelerafrigters ,agterlyn afrigters, verdedigingafrigters, skopafrigters ens.

Wat dit vir my sê dat die basiese vaardighede wat van jongsaf by spelers onwikkel moes gewees het ontbreek.Mannetjies Roux se hoogvat op Richard Sharpe in ‘n wedstryd teen Noord Transvaal wat tot ‘n gebreekte wangbeen gelei het,sou vandag gestraf gewees het.Maar dit is die punt nie.Daar was duidelike kommunikasie van Roux se kant af aan sy medespelers.Gaan jy vir die ek gaan vir die losskakel.

Saterdag loop die Waratahs die Lions in die eerste 10 minute deurmekaar.Wie se plig was dit om Beale se spasie te beperk en om hom af te sny?Praat spelers dan nie meer met mekaar nie en is soveel afrigters nodig omdat alle volgens plan moet verloop,tot wanneer die sg impakspelers opkom.
Daarom was dit lekker om ‘n vleuel soos Aphiwe Dyanty ‘n fantastiese drie te sien druk.
Het ons ouer geslag bederf geraak omdat daar spelers soos Roux,du Plessis,Gerber ens
ons op ons voete gehad het elke keer wanneer hul die bal in die hande kry.

As kind onthou ek vir Cliff Morgan die Walliese towenaar en so vele ander.Daar is fantastiese skole rugbyspelers wat net eenvoudig van die toneel verdwynMoet daar nie ‘n plan gemaak word om hul verder te ontwikkel nie.

Avokado ·

Daar bestaan nie meer iets soos afrigters en afrigting nie. Die spelers wat dit tot op provinsiale en nasionale vlak maak doen so met hulle natuurlike vermoens. Van skool af word spanne sterk gekoop en die sogenaamde afrigters is slegs “managers”. Daar word glad nie ontwikkeling gedoen nie. Baie spelers het potensiaal maar die wenmotief maak dat daar nie tyd is om dit te ontwikkel nie. Nou byt dit almal. Begin weer afrig – leer die swak en goeie speler om beter te speel. Maak foute reg. Leer vaardighede. Maar ongelukkig het die afrigter self nie die vaardighede nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.