Voorwaarts mars vir die Crusaders en Brumbies

Die Crusaders se Braydon Ennor (regs) systap die Melbourne Rebels se Jack Maddocks om sy span se vierde drie te druk (8 Junie 2019) (Foto: AP Photo/Mark Baker)

Crusaders v. Rebels

Skryf dit maar neer: dit gaan byna ʼn onbegonne taak vir enige rugbyspan in die Superrugby-reeks wees om oor twee weke in Christchurch in die kwarteindronde van die Superrugbyreeks die Crusaders te klop.

Dit is nou as die Crusaders dieselfde kliniese vertoning lewer as Saterdag se absolute oorheersing toe hulle die Rebels met 66-0 vermorsel het.

Ja, hulle het wel verlede Saterdag in Suva, Fidji, teen die Chiefs vasgeval, maar tuis? Wie gaan daarop wed dat hulle ná 27 opeenvolgende oorwinnings tuis sal verloor, veral nadat hulle laas in 1996 in ʼn uitspelwedstryd daar geklop is.

Tien super-drieë, drie elk deur die twee vleuels, Sevu Reece en Braydon Ennor, twee deur die heelagter, David Havili, en een elk deur die skrumskakel, Bryn Hall, en die veteraan-senter Ryan Crotty, wat in sy 150ste wedstryd gespeel het.

Ai, dit was lekker om te sien watter ophef daar van Crotty voor die wedstryd gemaak is toe hy deur ’n lang erewag van jong toeskouers uitgedraf het en toe deur leerlinge van sy oud-hoërskool, Shirley Boys’ High in Christchurch met hul skoolkreet/haka verras is.

Dis waaroor rugby gaan, oor spanwerk, trots, passie en tradisie … en die res sal volg as jy jou nodige talente inspan en reg afgerig is.

Die statistieke skets nie die ware prentjie nie, dis misleidend, want daarvolgens het albei spanne 50% besit gehad, die Crusaders het 133 duikslae uitgevoer (en met 18 misluk) teenoor die Rebels se 112 (38). Die Crusaders het ook meer geskop, 29 keer teenoor 24, hulle het die bal 146 keer uitgegee tenoor 145. Maar, die Crusaders het ʼn allemintige 962 meter met die bal gevorder, teenoor die Rebels se 316.

Dit was die verskil: die dag wanneer die Crusaders só speel, doen hulle dinge op volle vaart, sorg altyd dat die spanmaat wat in ʼn beter posisie is, die bal ontvang en dan pas hulle hul besit soos ʼn kleinnood op. En hul verdediging is rotsvas: vanjaar was hulle reeds met 86% van hul duikslae suksesvol. Die heel belangrikste was hul taktiese spel, die skop-aangeë van die losskakel, Richie Mo’unga, die skitterende hantering en ondersteuning, hul vermoë om nie besit af te staan nie en drieë te druk.

Punte: Crusaders 66 (26): Drieë: Sevu Reece (3), Braydon Ennor. David Havili, Bryn Hall, Ryan Crotty. Doekskoppe: Richie Mo’unga (7), Crotty.

Rebels 0

Brumbies v. Waratahs

Foto: BrumbiesRugby/Twitter

In Parramatta, Sydney, het die Brumbies seker gemaak dat hulle boaan die Australiese groep eindig toe hulle die Waratahs met 35-24 geklop het nadat hulle rustyd reeds met 28-3 voor was.

Die Brumbies het ook ʼn einde aan die Waratahs se aspirasies gemaak en speel nou oor twee weke tuis in Canberra in een van die kwarteindrondes. Die Waratahs was ná 10 minute met 3-0 voor, maar van toe af was dit eenrigtingverkeer. Die Brumbies het hul houvas oor die Waratahs verder vergroot, want dit was hul 6de oorwinning in hul laaste sewe wedstryde.

Wees maar verseker, die span wat die Brumbies wil klop, sal hul huiswerk deeglik moet doen om ʼn teenvoeter vir die Brumbies se rolmale te vind, want hulle is vernietigend naby enige teenstander se doellyn.

Vir die fynproewer is dit dalk nie skaapboud met gebakte aartappels op die Sondagmiddag-tafel nie, maar dis uiters doeltreffend en byna onstuitbaar.

Hulle hele spelpatroon draai om rolmale: kom tot binne die teenstanders se kwartgebied en rolmaal en nogmaals rolmaal om drieë te druk, sommer baie van hulle.

Tog was daar ook tikkies sprankelspel deur die agterlyn, ʼn duidelike aanduiding dat hulle ʼn baie gevaarlike span kan wees.

Punte: Brumbies 35 (28): Drieë: Rory Arnold, Andrew Muirhead, Irae Simone, Folau Fainga’a, Thomas Cusack. Doelskoppe: Christian Leali’ífano (5).

Waratahs 24 (3): Drieë: Nick Phipps, Adam Ashley-Cooper, Curtis Rona. Doelskoppe: Bernard Foley (3) Strafdoel: Foley.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.