Voorwaarts mars, Vrystaat

Ruan Pienaar is die Cheetahs se inspirerende kaptein. Foto: Twitter.

Die Leeus het gisteraand goed teen die Cheetahs begin, maar ná 80 minute se spel in Johannesburg is die Vrystaters steeds onoorwonne in die Curriebeker, terwyl die tuisspan nóg ’n nederlaag gely het.

Die Bloemfonteiners se oorwinning  van 35 – 26 beteken dat hulle nou weer eerste op die punteleer is. Die Bulle is weliswaar later teen Griekwas op Loftus Versfeld in aksie, maar die Vrystaters het een minder wedstryd as die Pretorianers gespeel.

Gister was die Leeus egter op soek na hul eerste oorwinning van die reeks en hulle het rustyd ’n voorsprong van 20 – 14 opgebou.

Stean Pienaar se drie in die eerste helfte het net gewys hoe gevaarlik die Johannesburgers kan wees wanneer hulle hul geleenthede doeltreffend benut, terwyl die opgewonde feesvieringe ná ’n skrumstrafskop gewys het dat hulle bittergraag as wenners van die veld wil stap.

Maar Ruan Pienaar se span het nooit moed opgegee nie en die Leeus het magteloos toegekyk hoe hul voorsprong van 26 – 17 verdwyn.

Louis van der Westhuizen se drie in die 75ste minuut van die wedstryd was die finale spyker in die Leeus se doodskis.

Die tuisspan moet dus vir die negende agtereenvolgende keer hul wonde lek, terwyl die Vrystaters vir die agtste keer op ’n streep kan feesvier.

  • Puntemakers:

Cheetahs: Drieë: Gideon van der Merwe, Marnus van der Merwe, Duncan Saal en Louis van der Westhuizen. Doelskoppe: Ruan Pienaar (3). Strafskoppe: Pienaar (3).

Leeus: Drieë: Stean Pienaar en Lindo Ncusane. Doelskoppe: Tiaan Swanepoel (2). Strafskoppe: Swanepoel (4).

Curriebeker-punteleer:

  1. Cheetahs: 36 punte
  2. Blou Bulle: 32 punte
  3. Haaie: 24 punte
  4. Griekwas: 20 punte
  5. Pumas: 19 punte
  6. WP: 9 punte
  7. Leeus: 3 punte

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.