Vorster, Tambwe in CB-span

Die Bulle kon ’n sterk span vir hul Curriebeker-wedstryd teen Griekwas kies. Foto: GB Jordaan.

Met hul volgende Verenigde Rugbykampioenskap-kragmeting eers oor ’n naweek of twee, kon die Blou Bulle weer eens ’n sterbelaaide span vir môre se Curriebeker-stryd teen Griekwas kies.

Spelers soos Canan Moodie, Cornal Hendricks, Harold Vorster, Madosh Tambwe, Chris Smith, Cyle Brink en Arno Botha sal op die Poubloues losgelaat word.

Jake White, die Pretorianers se uitgeslape direkteur van rugby, het juis in ’n vorige onderhoud gesê dat die spelers honger vir sukses moet bly; die komende Curriebeker-bepalings kan dus die perfekte doepa vir enige wedstrydfiksheid-kopseer wees.

Tog sal Griekwas nie kanonvoer wees nie – hulle het goed in die vorige wedstryd teen die Bulle (weliswaar in Kimberley) vertoon, terwyl hulle tans vierde op die punteleer is.

Maar die Pretorianers hou daarvan om wedstryde te wen en hulle sal nie sommer van hierdie gewoonte wil afstand doen nie; elke trofee in daardie groot vertoonkas op Loftus Versfeld is vir hulle ewe belangrik.

Die wedstryd begin om 17:00 en die aksie sal regstreeks op SuperSport uitgesaai word.

Blou Bulle: Canan Moodie (heelagter), Stravino Jacobs (regtervleuel), Cornal Hendricks (buitesenter), Harold Vorster (binnesenter), Madosh Tambwe (linkervleuel), Chris Smith (losskakel), Embrose Papier (skrumskakel), WJ Steenkamp (agtsteman), Cyle Brink (flank), Arno Botha (flank), Reinhardt Ludwig (slot), Walt Steenkamp (slot), Robert Hunt (stut), Jan-Hendrik Wessels (haker) en Lizo Gqoboka (stut). Plaasvervangers: Schalk Erasmus, Simphiwe Matanzima, Dylan Smith, Ruan Nortjé, Muller Uys, Keagan Johannes, Juan Mostert en Stedman Gans.

Griekwas: Rynhardt Jonker (heelagter), Munier Hartzenberg (regtervleuel), Sango Xamlashe (buitesenter), Zander du Plessis (binnesenter), Luther Obi (linkervleuel), George Whitehead (losskakel), Johan Mulder (skrumskakel), Siba Qoma (skrumskakel), Hanru Sirgel (agtsteman), Niel Otto (kaptein en flank), Derik Pretorius (slot), Johan Retief (slot), Janu Botha (stut), Gustav du Randt (haker) en Kudzwai Dube (stut). Plaasvervangers: Janco Uys, Eddie Davids, Justin Forwood, Cameron Lindsay, Luyolo Dapula, Stefan Ungerer, Chris Hollis en Ashlon Davids.

  • Curriebeker-punteleer:
  1. Blou Bulle: 32 punte
  2. Cheetahs: 31 punte
  3. Haaie: 24 punte
  4. Griekwas: 20 punte
  5. Pumas: 15 punte
  6. Westelike Provinsie: 9 punte
  7. Leeus: 3 punte

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.