Vreemde paljas pla SA puntemakers in Frankryk

Dit lyk of ʼn vreemde paljas die Suid-Afrikaanse puntemakers in die jongste kragmetings in die Franse Top14- en Pro D2-liga gepla het.

Slegs twee spanne met Suid-Afrikaners tussen die puntemakers, Montpellier en Montauban, kon hul wedstryde in die boonste twee Franse ligas wen.

♦ Drie Springbokke het punte in Montpellier se sege van 23-20 oor Perpignan in die Top14-reeks aangeteken.

Jan Serfontein (binnesenter) het ʼn drie gedruk, Ruan Pienaar (skrumskakel) het dit verdoel en met ʼn strafdoel geslaag, en Johan Goosen (losskakel) het ʼn strafdoel bygevoeg.

♦ Die Bok Morné Steyn (losskakel) het 11 van Stade Français se punte teen Racing 92 aangeteken, maar kon nie keer dat laasgenoemde met 17-16 wen nie.

♦ Daar was boonop ander teëspoed vir Suid-Afrikaners in dié liga.

Rynhard Elstadt, ʼn gewese Stormers-speler, het ʼn geel kaart op die lyf geloop in sy span, Toulouse, se nederlaag van 22-26 teen Castres; en dieselfde lot het Toulon se Bokstut Marcel van der Merwe in sý span se slae van 8-28 teen Clermont Auvergne getref.

Pro D2-liga

♦ Danré Gerber, gewese Bolandse speler en seun van die Boklegende Danie Gerber, het 11 punte met ʼn doelskop en drie strafdoele vir Mont de Marsan teen Soyaux-Angouleme behaal, maar laasgenoemde het met 20-16 gewen.

♦ Hansie Graaff (losskakel) het al Massy se punte in sy nederlaag van 6-21 teen Vannes met twee doelskoppe behaal.

Hy het Curriebeker-rugby vir die Griffons en die Suidwestelike Distrikte gespeel.

♦ Die Blitsbok Shaun Adendorff (agsteman) het ʼn drie vir Aurillac teen Brive gedruk, en Pieter-Steyn de Wet (skrumskakel), beter bekend as ʼn losskakel vir die Kings, het albei dié span se drieë verdoel.

♦ Riaan Swanepoel (heelagter), ʼn oud-Sharks-speler, het ʼn seëvierende Montauban (29-20) se eerste drie teen Colomiers gedruk.

Brive was met 36-14 baas.

♦ Willie du Plessis (losskakel), ʼn gewese Superrugbyspeler van die Cheetahs, het ʼn strafdoel vir Bayonne teen Biarritz behaal.

Laasgenoemde het met 22-6 gewen.

♦ Ondanks ʼn rooi kaart in die 22ste minuut aan Steven Sykes (slot), het Oyonnax vir Bresanne met 49-16 opgedreun.

Sykes het Superrugby vir die Sharks en die Kings gespeel, en laasgenoemde aangevoer.

Engelse Premierliga

♦ In die Engelse Premierliga het die Bok Juan de Jongh (buitesenter) het een van Wasps se drie drieë in sy oorwinning van 23-22 oor Newcastle aangeteken.

Pro14-liga

♦ Oli Kebble (loskopstut) en Huw Jones (buitesenter) het elk ʼn drie gedruk in die Skotse superklub Glasgow Warriors se Pro14-sege van 29-13 oor die Walliese streekspan Newport Gwent Dragons.

Albei het Superrugby vir die Stormers gespeel. Kebble is die seun van die Bokstut Guy Kebble, en Jones speel toetsrugby vir Skotland.

♦ Duhan van der Merwe (linkervleuel) het een van die Skotse superklub Edinburgh se vier drieë gedruk in sy naelskraapse sege van 31-30 oor die Italiaanse klub Benetton Treviso.

Van der Merwe, die jonger broer van die Bokhaker Akker van der Merwe, het SA o.20-verteenwoordig en vir die Blou Bulle gespeel.

Engelse Kampioenskap

♦ Roy Godfrey (loskopstut) het ʼn drie vir Jersey gedruk in sy sege van 39-19 oor Yorkshire Carnegie.

Brendan Cope (losskakel) het ʼn doelskop vir die verloorspan behaal.

Godfrey het Curriebeker-rugby vir die Suidwestelike Distrikte gespeel, en Cope het die Sharks op o.21-vlak verteenwoordig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.