‘Vreemdeling’ Frans het nog net saam met handjievol Bokke gespeel

Frans Steyn – leer baie van sy spanmaats van nader ken (Foto: Facebook sarugbymagazine)

Het die Springbokke vir Frans Steyn met sy aankoms in Plettenbergbaai “ontgroen”?

ʼn Mens vra dit so tong in die kies omdat die veelsydige agterspeler, wat Woensdag eers by die Bokgroep aangesluit het, vir baie spelers in die groep eintlik maar ʼn “nuweling” as spanmaat is.

Steyn het sy laaste toets in 2012 gespeel. Baie van die nuwe sterre was toe maar aan die begin van hulle Super- en selfs Curriebekerloopbane – en van hulle het toe nog net van provinsiale rugby gedroom of op daardie vlak hul voete probeer vind.

Van die manne wat saam met Steyn in die Bokgroep is, het Frans Steyn nog net saam met Beast Mtawarira, Francois Hougaard, Chiliboy Rallepelle, Coenie Oosthuizen, Duane Vermeulen en Eben Etzebeth toetsrugby gespeel.

Steyn se laaste twee toetse – teen Australië en Nieu-Seeland in 2012 – was ook Vermeulen se eerste twee. Hy sal natuurlik ook vir Vermeulen as Franse teenstander in die Top14 goed ken.

Steyn was darem in 2010 saam met Coenie Oosthuizen en Elton Jantjies op die jaareindtoer, maar die twee het toe geen wedstryde gespeel nie. Saam met Oosthuizen (plaasvervanger) het Steyn egter in 2012 in een toets (teen Engeland) gespeel.

Hy sal seker die meeste spelers in die Bokgroep ken, want hy het tot 2015 nog vir die Sharks in die Superreeks gespeel en hulle in 2013 selfs in die Curriebeker aangevoer.

Jean-Luc du Preez het  in  2015 sy Sharksloopbaan in die Curriebeker begin, maar nie vroeër die jaar in die Superreeks gespeel nie, waar Steyn wel uitgedraf het.  Steyn ken Pieter-Steph du Toit ook as spanmaat by die Sharks en was in 2009 saam met Ross Cronje in die Sharks se Superrugbygroep. Cronje het net in een wedstryd gespeel.

Die ander sal vir Steyn egter meer as teenstanders bekend wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

job jobson ·

Ek hoop Frans is i aanwins vir AC . Ek sien net WEN,WEN,WEN!!!!!!!!!!!!!!!!!!!! of hoe Hansie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.