Het die Springbokke vir Frans Steyn met sy aankoms in Plettenbergbaai “ontgroen”?
ʼn Mens vra dit so tong in die kies omdat die veelsydige agterspeler, wat Woensdag eers by die Bokgroep aangesluit het, vir baie spelers in die groep eintlik maar ʼn “nuweling” as spanmaat is.
Steyn het sy laaste toets in 2012 gespeel. Baie van die nuwe sterre was toe maar aan die begin van hulle Super- en selfs Curriebekerloopbane – en van hulle het toe nog net van provinsiale rugby gedroom of op daardie vlak hul voete probeer vind.
Van die manne wat saam met Steyn in die Bokgroep is, het Frans Steyn nog net saam met Beast Mtawarira, Francois Hougaard, Chiliboy Rallepelle, Coenie Oosthuizen, Duane Vermeulen en Eben Etzebeth toetsrugby gespeel.
Steyn se laaste twee toetse – teen Australië en Nieu-Seeland in 2012 – was ook Vermeulen se eerste twee. Hy sal natuurlik ook vir Vermeulen as Franse teenstander in die Top14 goed ken.
Steyn was darem in 2010 saam met Coenie Oosthuizen en Elton Jantjies op die jaareindtoer, maar die twee het toe geen wedstryde gespeel nie. Saam met Oosthuizen (plaasvervanger) het Steyn egter in 2012 in een toets (teen Engeland) gespeel.
Hy sal seker die meeste spelers in die Bokgroep ken, want hy het tot 2015 nog vir die Sharks in die Superreeks gespeel en hulle in 2013 selfs in die Curriebeker aangevoer.
Jean-Luc du Preez het in 2015 sy Sharksloopbaan in die Curriebeker begin, maar nie vroeër die jaar in die Superreeks gespeel nie, waar Steyn wel uitgedraf het. Steyn ken Pieter-Steph du Toit ook as spanmaat by die Sharks en was in 2009 saam met Ross Cronje in die Sharks se Superrugbygroep. Cronje het net in een wedstryd gespeel.
Die ander sal vir Steyn egter meer as teenstanders bekend wees.
Ek hoop Frans is i aanwins vir AC . Ek sien net WEN,WEN,WEN!!!!!!!!!!!!!!!!!!!! of hoe Hansie.