Vreugdevure brand maar laag ná Bokke se sege oor Wallabies

Faf de Klerk breek met sy teenstander Will Genia wat hom probeer afsny. (Foto: Twitter @qantaswallabies)ʼn Mens moet altyd dankbaar wees vir ʼn oorwinning in toetsrugby, maar Saterdag se oorwinning van 23-12 oor die Wallabies in die Rugbykampioenskap in Port Elizabeth is een wat nie lank onthou sal word nie.

Nadat die Bokke ná 20 minute met 14-0 voor was en op verlede week se momentum teen die All Blacks in Wellington voortgebou het, het hulle weer in ʼn groef van middelmatigheid teruggesak.

Net soos in verlede week in die toetswedstryd teen die All Blacks in Wellington, toe die Bokke sonder besit en byna bloot op genade (en verdediging) met 36-34 deurgeskraap het, het hulle weer in baie fasette te kort geskiet.

Hulle was rustyd met 20-12 voor en die Wallabies was reg om afgeslag te word, maar die Bokke kon nie die uitklophou plant nie.

Was dit nie maar net ʼn pure vloekskoot teen die All Blacks nie?

ʼn Mens wil nie net kla nie, maar só gaan die geluk moes opdroog. Jy moet kan drieë druk, jy moet kanse skep, jy moet genoeg gebiedsvoordeel hê en darem genoeg besit wen om teen die heel grotes mee te ding.

Twee drieë teen twee teen een van die swakste Wallaby-spanne in jare, wéér ʼn gebrek aan besit (40 persent teenoor 60 persent) kan jou mos nie laat wen nie?

Die Bokke moes weer op hul verdediging staat maak om aan die wenkant te bly. Hulle het 183 duikslae (waarvan nege onsuksesvol was) uitgevoer. Die Wallabies moes net 90 keer verdedig en het tien duikslae gemis.

Is dit nou die Bokke se grootste troefkaart? ʼn Mens hoop werklik nie so nie.

As is verbrande hout, maar as die Wallaby-senter Matt Toomua nie met ʼn strafdoel en ʼn doelskop misluk het nie en Reece Hodge ook nie skeef gekorrel het met ʼn lang strafdoel nie, kon sake so maklik anders verloop het.

Aan die positiewe kant was die werkverrigting, verdediging en die aanvalsvermoë van Aphiwe Dyantyi  weer ʼn openbaring. Ja, hy het ʼn geelkaart gekry, maar die span was gewaarsku en hy was ongelukkig die eerste oortreder ná ʼn algemene waarskuwing.

Dan was Handré Pollard op sy kop met sy algemene spel, taktiese skopwerk, sy balverspreiding en met sy skopwerk pale toe.

Faf de Klerk was weer ʼn woelwater en voorlangs het Pieter-Steph du Toit, Eben Etzebeth, Malcolm Marx en Siya Kolisi uitgetroon.

Aan die negatiewe kant: Wat het met die Bokke in die skrums verkeerd geloop? Teen ʼn span wat nog nooit as skrumwerkers gereken is  nie?

Dan is die ou waarheid dat jy nie sonder ʼn baljagter kan speel nie, herbeklemtoon.

Ook, sal dit ʼn tweede keer genoeg wees om net op verdediging teen die All Blacks staat te maak?

 Puntemakers:

Suid-Afrika (20) 23: Drieë: Aphiwe Dyantyi, Faf de Klerk. Doelskoppe: Handré Pollard (2). Strafdoele: Pollard (3).
Australië (12) 12: Drieë:  Reece Hodge, Will Genia. Doelskop: Matt Toomua.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

30 Kommentare

jongste oudste gewildste
Groen Ertjie

Faf het al die besit weggeskop en die bokke onder druk geplaas in die tweede helfte – twee senters is ook useless

wolla

Moet sê dis die swakste Wallaby agterlyn wat ek in jare gesien het. Nou dat hul skrumwerk op standaard is, gaan hulle agterspel agteruit. De Klerk moet minder besit wegskop dit kan fataal wees teen die AB’s. Kolbe baie goed asook Pollard. Dyanti is gevaarlik op die aanval maar moet baie leer as dit by verdediging kom. Etsebeth, Mostert, PSDT, Kolisi en supersub Kitshoff ook goed gespeel. Van Staden weer nie beindruk nie.

SjN

Hoekom sommige spelers so ophemel deur die afgewaterde kommentators, as hul so speel gaan hul nie ver kom nie. Ek dink nog steeds daar was n gekonkel met die AB wedstryd.

Swartwolf

@Wolla: het jy dieselfde game gekyk? Weer soos 2 weke terug het Kolbe nie sy man gemerk nie en ‘n drie afgestaan. Tuindwerg in ‘n groen en goud trui. Waar was Kolisi – twee tackles en ‘n drie weggesmyt met sy tekort aan visie ?? Jy droom van kiewieteiers…….

LHS

Seker van die swakste rugby wat Australie huidiglik speel. Kom ons wees eerlik oor die huidige spelers in die bok span, wie hoort daar sonder enige twyfel. Nr’s 15, 11, 10,9, 6 (PsdT) 4,5 en 2 en daar stop die lysie. Die res se verdediging is goed, dankie Soois de Bruin, maar ongelukkig in n oorlog is dit gewoonlik die aanhoudende verdedigers wat uiteindelik moet oorgee. Gelukkig WEET ons vooraf niks gaan verander of verbeter nie, so wees bly oor die krummels as ons per ongeluk wen. Beslis nie a.g.v. goeie spel wat ons die afgelope 2 gewen het nie,… Lees meer »