VRK: Leinster is weer bo

Leinster het Benetton met 61-17 geklop. (Foto: Twitter / Leinster Rugby)

Die manne van Dublin is weer boaan die punteleer van die Verenigde Rugbykampioenskap nadat hulle Benetton met 61-17 vermorsel het. Nadat Ulster Vrydagaand met Cardiff afgereken het, was hulle flussies boaan die punteleer.

Leinster se oorwinning oor Benetton, waarin Leo Cullen se span nege drieë gedruk het, het hulle weer terug in die boonste plek geplaas met ʼn voorsprong van vier punte op die punteleer.

Ulster is in die tweede plek, met nog ʼn Ierse span, Munster, in die derde plek. Munster het die Dragons gister met 64-3 getrap en het een wedstryd minder as die twee voorste spanne gespeel.

Glasgow Warriors is in die vierde plek, een punt agter Munster. Die manne van Glasgow het gisteraand 10-35 teen die Scarlets in Llanelli verloor nadat hulle vyf agtereenvolgende wedstryde gewen het. Die Scarlets is nou stert in die lug vir hulle wedstryd Vrydagaand teen die Haaie in Durban.

Nog ʼn Skotse span, Edinburgh, is in die vyfde plek op die punteleer met dieselfde aantal ligapunte.

Die Haaie vaar die beste van die Suid-Afrikaanse spanne en is in die agtste plek op die punteleer, maar het twee minder wedstryde as die voorlopers gespeel. Die Stormers is in die negende plek, gevolg deur die Bulle in die 11de plek. Die Leeus is 14de uit die 16 spanne wat deelneem en het boonop meer wedstryde gespeel as die spanne in die 12de en 16de plekke.

Die Bulle speel volgende Saterdag op Loftus Versfeld teen Munster, wat nou in die vyfde plek op die punteleer is. Die Leeus speel volgende Sondag teen Cardiff en die Stormers pak Zebre Parma.

Vanmiddag 16:00 Suid-Afrikaanse tyd speel Ospreys teen Zebre Parma.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.