VRK-reeks: Bek-af Stormers klop Leinster

Stormers teen Leinster (30 April 2022) (Foto: Hansie Linde)

Dis gebeur nie aldag nie dat ʼn rugbyspan tevrede van die veld afstap hoewel hy verloor het nie.

Dit het Saterdag in die Kaapstad-stadion gebeur toe Leinster se sogenaamde tweede span met 20-13 deur die Stormers in die Verenigde Rugbykampioenskap geklop is.

Leinster, wat boonop ʼn strafskop net binne hul eie gebied gekry het nadat die sirene reeds geblaas het, wou niks waag nie en het die bal na ʼn tikskoppie eerder agtertoe uitgeskop.

Hoekom? Want Leinster, wat een punt verdien het omdat hulle binne sewe punte van die Stormers geëindig het, is bo-aan die VRK se puntelys en is verseker van tuisveldvoordeel in die uitspeelrondes.

Hulle wou ook nie ʼn kans waag om die bal dalk aan die Stormers te besorg wat op ʼn moontlike bonuspuntdrie kon uitloop nie.

Die Stormers kan hulleself skop dat hulle nie ʼn vierde drie vir ʼn bonuspunt kon druk nie. Hulle het verskeie kanse gehad, maar dit deur hul vingers laat glip, selfs toe Leinster ná twee geel kaarte (John McKee en Cormac Foley) met net 14 spelers moes klaarkom en kwaai moes walgooi.

Stormers teen Leinster (30 April 2022) (Foto: Hansie Linde)

Die Stormers is nou saam met Munster, die Sharks en die Bulls (almal op 56 punte) tweede en die laaste reeks wedstryde gaan op ʼn groot armdruk uitloop.

Die Stormers sluit die reeks oorsee teen die Walliese Scarlets af, wat negende op die puntelys is.

Die Stormers, aangespoor deur Warrick Gelant en Seabelo Senatla, was gevaarlik op die aanval. Die tuisspan se pak het ook die oorhand gehad, maar hul lynstaaningooie wek kommer.

Hulle het net sewe strafskoppe afgestaan teenoor Leinster se 14, maar kon nie ʼn bonuspunt-oorwinning beklink nie.

Hou ook maar duimvas dat Manie Libbok nie weer ʼn afdag met sy stelskopwerk gaan beleef nie. Onthou ook maar gerus dat die Stormers, soos al die ander SA spanne, oorsee gaan afsluit.

Punte: Stormers 20 (3): Drieë: Warrick Gelant, Seabelo Senatla, strafdrie (7 punte). Strafdoel: Manie Libbok.

Leinster 13 (6). Drie: Ed Byrne. Doelskop: Harry Byrne. Strafdoele: Ciarán Frawley (2).

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

piet ·

Ons sukkel om Leinster se 2de span in SA te klop. Hoe op dees aarde gaan ons hul sterkste span in Europa klop? Dieselfde storie as Super Rugby. Jy moet heel bo eindig om ‘n kans te staan om die titel te wen, vergeet maar van wen in ‘n ander land.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.