VRK-reeks: Benetton laat Sharks bloos

Die nederlaag van 24-25 wat die Sharks Saterdag op Kingspark in die Verenigde Rugbykampioenskappe teen Benetton gely het, kan baie van die goeie werk wat die afgelope paar weke gedoen is, ongedaan maak.

Aan die ander kant, is dit dalk ook ʼn tydige wekroep voordat hulle op 24 Mei in Londen in die eindstryd van die Europese Uitdaagbekerreeks teen Gloucester speel.

Benetton se plaasvergvanger-losskakel Jacob Umaga het in die doodsnikke deurgewals om die Sharks aan die slaap te vang. Die Sharks het toe met 14 spelers klaargekom nadat die senter Murray Koster met ʼn rooi kaart vir ʼn kop-teen-kop-duikslag gestraf is.

Ná Umaga se drie het hy ook met die doelskop geslaag om die deur vir Bennett oop te hou om vir die uitkloprondes te kwalifiseer.

Kort voordat die wendrie gedruk is, het Benetton ook gedruk, maar die drie is nie toegeken nie, want die laaste aangee was vorentoe.

Dan het die plaasvervanger-skrumskakel Dewaldt Duvenage so byna ook ʼn drie gedruk toe hy en Makazole Mapimpi die bal agter die Sharks se doellyn toegeval het.

Dit is ʼn wedstryd wat die Sharks so gou as moontlik wil vergeet, want Eben Etzebeth (harsingskudding), Lukhanyo Am en Vincent Koch is almal beseer en kon nie voortspeel nie.

Dan is dit ʼn uitgemaakte saak dat Koster geskors sal word en nie vir die Uitdaagbeker-eindstryd oorweeg sal kan word nie.

Die beserings was kwaai ontwrigtend, want dit het die Sharks van skrumoorheersing ontneem, terwyl die vurige Etzebeth se lynstaanspel en kragvertonings in die los en op die verdediging erg gemis is.

Agterlangs speel Am ook ʼn baie groot rol in die ontwikkeling van die losskakel Siya Masuku, wat glo op die Springbokke se radar is vir die eenmalige toets teen Wallis.

Die Sharks sal baie vrae aan die afrigter, Joh Plumtree, moet beantwoord, want hulle het die wedstryd in die sakkie gehad, maar daaruit laat wegkom.

Die groot pluspunte vir die Sharks was die soveelste spogvertonings deur die heelagter Aphelele Fassi, en Kok.

Puntemakers: Benetton 25 (8): Drieë: Tomasso Menoncello, Giamarco Lucchesi, Jacob Umaga. Doelskoppe: Leonardo Marin, Umaga. Strafdoele: Marin, Umaga.

Sharks 24 (10). Drieë: Aphelele Fassi, Ox Nche, Werner Kok (2). Doelskoppe: Siya Masuku (2).

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.