VRK-reeks: Bulls begrawe Benetton-spook

Die Bulls en Benetton sê mekaar die stryd aan. (Foto: Benetton via Facebook)

Vir 40 minute het die Benetton-spook van 2021 weer geloop.

Maar waar die Bulls se rugbyspan toe boedel oorgegee het in die eindstryd van die Reënboogbeker-reeks teen Benetton en met 35-8 oorrompel is, het hulle Vrydagaand in die Stadio Monigo in Treviso daardie hoofstuk afgesluit en die kragmeting in die Verenigde Rugbykampioenskap met 44-22 gewen.

Teen rustyd was Benetton nog met 9-3 voor en is die spoke onnodig opgejaag.

Die Bulls het, net soos in hul eerste twee wedstryde op toer, hulle skuldig gemaak aan swakkerige verdediging en ʼn oënskynlike gebrek aan selfvertroue.

Nadat daar ʼn groot opflikkering in die tweede helfte was, het die damwal egter gebars en het die Bulls vier drieë gedruk vir ʼn bonuspuntesege.

Hulle het Benetton voorlangs oorheers met Marcell Coetzee en Elrigh Louw aan die voorpunt. Hulle het Benetton agter die voordeellyn vasgevat en die tuisspan in al hoe meer foute gedwing.

Met die komkommerkoel plaasvervangerlosskakel Morné Steyn in beheer, het Benetton nie meer antwoorde gehad nie.

Waar hulle in die eerste helfte nog hul man in die skrums en in die vaste los kon staan, het die krake al hoe groter geraak en kon hulle veral nie die Bulls se rolmaalbewegings keer nie.

Nadat die VRK se wedstrydprogram omvergewerp is toe die kragmetings tussen die Lions en die Glasgow Warriors en Sharks en Ulster uitgestel moes word omdat die besoekers nie genoeg fikse spelers gehad het nie vanweë gastroënteritis, is die kaarte heeltemal deurmekaargekrap.

Die Bulls het 19 punte ná ses wedstryde (insluitend drie toerwedstryde) en is derde op die puntelys.

Net soos verlede seisoen kan hulle nou vorentoe kyk na Loftus Versfeld waar die besoekende spanne kan klippe kou.

Ja, hier en daar ontbreek daar nog plofkrag en fynere vaardighede, maar as die Bulls op Vrydagaand se vertoning in die tweede helfte kan voortbou, is daar genoeg ligte om helder te skyn.

Puntemakers

Bulls 44 (3). Drieë: Ruan Nortjé, Elrigh Louw, Jan-Hendrik Wessels, Marcell Coetzee, Stravino Jacobs. Strafdoele: Chris Smith (3). Doelskoppe: Smith (2), Morné Steyn (3).

Benetton 22 (9). Drie: Manuel Zuliani. Strafdoele: Tomás Albornoz (5). Doelskop: Albornoz.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.