VRK-reeks: Bulls gaffel, maar kan nie die hek teen Scarlets toemaak nie

(Foto: Scarlets Rugby/Twitter)

Een swaeltjie maak geen somer nie, maar die Bulls het Vrydagaand in Llanelli die spelskeppende vermoë van Kurt-Lee Arendse kwaai gemis.

Die Walliese Scarlets het op hul tuisveld Parcy y Scarlets die Bulls met 37-28 in hul kragmeting in die Verenigde Rugbykampioenskap geklop nadat hulle met rustyd met 27-14 voor was.

Die Bulls het die tweede helfte heeltemal oorheers en vir 35 minute is die Scarlets in hul gebied vasgepen, in die skrums opgefrommel, by die afbreekpunte geboelie en moes hulle keer vir al wat hulle werd was om die Bulls van hul doellyn af weg te hou.

Die Bulls het gedryf en gerolmaal en dit het nie gelyk of die Scarlets die aanslae sou weerstaan nie.

Dit was tipiese Blou Bul-rugby, naamlik oorheersing voor, om die teenstanders te wurg en sag te maak voordat die finale slag geslaan sou word.

Voorlangs het Marco van Staden, Elrigh Louw, Cyle Brink, Ruan Nortjé, Ruan Vermaak en die voorry oorheers en al wat oënskynlik ontbreek het, was die X-faktor van ’n speler soos Arendse, wat volgens die protokol van die Springbokspan vir ’n paar weke saam met sy spanmaats ’n ruskans kry, om die Scarlets finaal te knak.

Met die oormaat besit en gebiedsvoordeel moes die Bulls (in hul 13de wedstryd) nooit verloor het nie.

Hulle was binne bereik van ’n oorwinning en nadat hulle vier drieë gedruk het, het hulle net een oomblik van briljantheid gekort om die laaste slag te slaan.

Maar met net ’n paar minute oor het die Scarlets byna die eerste keer uit hul gebied weggebreek en ’n aanval van stapel gestuur.

Die Bulls se regtervleuel David Kriel het die Scarlets se Ryan Conbeer sonder die bal geloop en dit het tot ’n geel kaart gelei nadat die skeidsregter Andrew Brace van Ierland die voorval na die televisieskeidsregter verwys het.

Dit het die deur vir die Scarlets oopgemaak om asem te skep voordat Johnny McNicoll die wendrie kort voor die einde gedruk het.

Die Bulls (40 punte) het na die vierde posisie op die puntelys afgeskuif. Hulle is steeds ses punte voor die Glasgow Warriors, wat vyfde is, maar twee wedstryde minder gespeel het.

Die Bulls keer ná ’n lang toer terug huis toe waar hulle die Stormers (ook sonder hul Springbokke) en Lions pak. Hulle speel dan tuis teen Zebre, weg teen Ulster en weer tuis teen Leinster om die bepalings in die groeprondes af te handel.

Die buffer wat hulle opgebou het, is heel waarskynlik genoeg om hulle tussen die topvier te hou.

Punte: Scarlets 37 (27). Drieë: Dan Davis, Kemsley Mathias, Gareth Davies, Johnny McNicoll. Strafdoele: Sam Costelow (3). Doelskoppe: Costelow (3), Dan Jones.

Bulle 28 (14). Drieë: Zak Burger, Stravino Jacobs, Cyle Brink, Simphiwe Matanzima. Doelskoppe: Chris Smith (4).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.