VRK-reeks: Bulls vertrap Zebre op Ellispark

(Foto: GB Jordaan)

ʼn Dier is op sy gevaarlikste wanneer hy gewond is.

Dit het die Italiaanse Zebre-span Saterdagmiddag op Ellispark agtergekom toe hulle met 78-12 deur die gewonde Bulls in die Verenigde Rugbykampioenskap verbrysel is.

Die Bulls, wat met die rug teen die muur was om vir die topagt in die reeks te kwalifiseer, het 11 puik drieë gedruk vir hul bonuspuntsege gedruk.

Die Bulls (48 punte) het met dié oorwinning bo die Sharks (46 punte) op die puntelys opgeskuif.

Hulle is nou sesde op die puntelys en na alle waarskynlikheid verseker van ʼn plek tussen die topagt en in aanstaande seisoen se Europese Kampioenebekerreeks.

Dit plaas die druk weer vierkant op die Sharks, wat Munster komende Saterdag sal moet klop om hul aanspraak op ʼn topagt-plek te behou.

Draai die horlosie terug na 2007 toe die Bulls ook gewond was en met die rug teen die muur gestaan het in die Superreeks in hul laaste groepwedstryd. Die Bulls moes 72 punte teen die Reds (wat deur Eddie Jones afgerig is) aanteken om tuisveldvoordeel teen die Crusaders in die halfeindronde te verkry. Dit was net soos Saterdag op Ellispark ook ʼn slagting toe die Bulls die Reds met 92-3 vir hul grootste oorwinning in Superrugby vermorsel het.

Die Bulls het voortgegaan, die Crusaders met 27-12 in die halfeindronde op Loftus Versfeld ore aangesit en die Sharks in die eindstryd met 20-19 geklop.

Soos die Bulls Saterdag teen Zebre gespeel het, kan dit weer gebeur.

Die hele span het hul kanse aangegryp, hulle het geskrum, gespring, gerolmaal en die agterlyn het gebaljaar.

Ja, Zebre is dalk nie ’n ware maatstaf nie, maar dit was eerder die wyse die Bulls gespeel het, wat die verbeelding aangegryp het.

Punte: Bulls 78 (36). Drieë: Canan Moodie (3), Embrose Papier (2), Ruan Vermaak (2), Gerhard Steenekamp, Marco van Staden, Bismarck du Plessis, Chris Smith. Doelskoppe:  Johan Goosen (10). Strafdoel: Goosen.

Zebre 12 (5). Drieë: Richard Kriel, Chris Cook. Doelskop: Tiff Eden.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.