VRK-reeks: Connacht trap Lions se tjank af

Burger Odendaal (Foto: Lions Rugby/Facebook)

Die Ierse rugbyspan Connacht het die Lions se partytjie Saterdagmiddag op Ellispark bederf toe hy sy kragmeting in die Verenigde Rugbykampioenskap met 33-30 gewen het.

Connacht was rustyd met 14-8 voor en het slegs die tweede Europese span geword wat in dié reeks in Suid-Afrika kon wen.

Dit was ook Connacht se negende oorwinning oor Suid-Afrikaanse spanne in alle reekse nadat hulle laas in 2018 teen die Cheetahs in Bloemfontein verloor het.

Was die Lions dalk te oorgretig, die gebrek aan ervaring te ooglopend, of het hulle die duur prys vir ʼn gebrek aan dissipline betaal? Hoe ook al, die Lions het gesukkel om hul uithalervertonings van die afgelope paar maande tuis te herhaal nadat hulle vier agtereenvolgende seges behaal en laas in Februarie op Ellispark teen die Stormers verloor het.

Connacht was kort voor rustyd reeds met 14-3 voor en in beheer van sake voordat die Lions se Rabz Maxwane kort voor rustyd ʼn drie gedruk het om die rustydvoorsprong tot net 14-8 te laat krimp.

Die plaaslike ondersteuners, wat al hoe harder geraas het (ook as daar pale toe geskop is), het gehoop dat die ou waarheid dat jy net voor en net ná rustyd punte moet aanteken om te wen, bewys sou word.

En natuurlik ook dat die hoogte bo seevlak die besoekers onkant sou betrap het.

Maar hulle het kopgehou en hoewel daar by ʼn paar geleenthede tyd gemors is om asem te skep, het hulle verdien om te wen.

Vir die Lions was die senters Wandisile Simelane en Burger Odendaal kookwater en voorlangs het Vincent Tshituka oudergewoonte uitgeblink.

Vir die toeskouers en TV-kykers by die huis was daar ʼn opskudding toe die Lions se slot Ruben Schoeman se stewel geskeur het en hy die plaasvervanger-stut Carlu Sadie se paar stewels moes leen om voort te speel.

Maar toe Sadie vir Ruan Dreyer (geel kaart nadat hy ʼn losskrum afgetrek het) opgestuur is, het hy sy stewels opgeëis en moes Schoeman weer skoene omruil en met ʼn derde paar voortspeel.

Punte:

Connacht 33 (14): Drieë: Cian Pendergast, strafdrie (7 punte), Tom Daly. Doelskoppe: Jack Carty (2). Strafdoele: Carty (4).

Lions 33 (8): Drieë: Rabz Maxwane, Morné van den Berg, Edwill van der Merwe, Burger Odendaal. Doelskoppe: Jordan Hendrikse (2). Strafdoele: Hendrikse (2).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Frans ·

.nMens sou dink dat die Leeus hul sterkste wapen die skrum naby die doellyn sou gebruik ipv die kort skoppie.Verbroude skoppe pale toe het ook sy tol geeis.Die feit dat Connacht feilik deurgaans onkant gespeel het het sake ook deurmekaar gekrap.

Jan ·

Vandat Kevin de Klerk weg is gaan Leeus wees soos voor Kevin de Klerk se dae van redelik na pateties

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.