VRK-reeks: Lions brul kliphard teen Connacht

Foto: Lions Rugby/Facebook)

Daar is bitter min dinge mooier as wanneer ʼn leeu hard brul.

Wanneer dit boonop in Ierland in die Verenigde Rugbykampioenskap is, klink dit nog mooier, al is dit spreekwoordelik van aard.

Gisteraand in Galway het die Lions se rugbyspan sommer baie hard gebrul, want hulle het een van hul beste vertonings nog, dalk selfs hul heel beste ooit, in die VRK-reeks gelewer toe hulle Connacht met 38-14 verwoes het.

Dit was op die koop toe Connacht se eerste verloorslag teen enige Suid-Afrikaanse span tuis.

Dit was ook die Lions se eerste sege nog in Ierland en wat hul vertoning merkwaardig maak, is dat hulle byna ʼn uur lank met net 14 spelers moes klaarkom nadat die stut Asenathi Ntlabakanye in die 16de minuut met ʼn rooi kaart afgestuur is omdat hy ʼn teenstander se kop in ʼn duikslag met sy kop getref het.

In die meeste gevalle sou dit, in tennisterme, pot, stel en wedstryd beteken het.

Maar nie vir die Lions nie, want hulle het nie boedel oorgegee nie en eerder van krag tot krag gegaan.

Selfs met net sewe voorspelers is die Lions nie een keer in die skrums verinneweer nie. Dis ʼn baie groot pluimpie vir die Lions se skrumafrigter, die oud-Springbokstut Julian Redelinghuys, wat die voorspelers in ʼn baie hegte eenheid laat ontwikkel het.

Die Lions was absoluut skitterend en het ses drieë vir hul bonuspuntsege gedruk.

(Foto: Connacht/Facebook)

Nadat Benetton, Edinburgh en UIster Saterdag verloor het, het die Lions die agterdeur oopgeskop om vir die uitspeelrondes te kwalifiseer.

Soos Quan Horn, Edwill van der Merwe, Erich Cronje, Marius Louw en Sanele Nohamba gespeel het, gaan die Lions die uitspeelrondes haal.

Soos PJ Botha, JP Smith, Reinhardt Nothnagel, Darrien Landsberg, JC Pretorius en Francke Horn voorlangs geswoeg en gesweet en hul nerwe afgeduik het, kan die Lions nog veel verder vorder.

Hulle het ook nie geskroom om die bal wyd te rek nie, hulle het teenaanvalle uitgevoer, hulle het Connacht met goed berekende skoppe in hul eie gebied vasgepen.

Puntemakers: Lions 38 (12). Drieë: Quan Horn (2), JC Pretorius, Edwill van der Merwe, Erich Cronjé, Morné van der Berg. Doelskoppe: Jordan Hendrikse (4).

Connacht 14 (7): Drieë: Cian Prendergast, JJ Hanrahan. Doelskoppe: Hanrahan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.