VRK-reeks: Lions brul op Ellispark

(Foto: GB Jordaan)

Dis heel te verstane dat daar gister slegs ʼn handjievol lojale ondersteuners op Ellispark was.

Die Lions, met die kaptein Burger Odendaal in sy swanesang op Ellispark aangesien hy sy loopbaan in Engeland gaan voortsit, het Benetton van Italië met 37-29 in die Verenigde Rugbykampioenskap geklop nadat die rustydtelling 22-15 in die besoekers se guns was.

Ja, dis half jammer, maar daar kan sekerlik nie verwag word dat daar duisende ondersteuners na Ellispark sou opruk nie, veral nie oor die ongelooflike ooraanbod van regstreekse sport op televisie, wat onder meer twee ander wedstryde in die VRK-reeks, talle oorsese rugbywedstryde, die Wildeklawer-skoletoernooi in Kimberley, kwalifisering vir Sondag se MotoGP-ren, twee krieketwedstryde in die Indiese Premierliga, die Toer van Normandië-fietstoer, Engelse sokker, regstreekse netbal en hokkie en nog ander sportgeleenthede vir die smulpape was om aan te smul nie.

Die Lions, wat nog een wedstryd oorsee moet speel om die seisoen af te sluit, het vyf drieë teenoor vier gedruk en tot die tiende posisie op die puntelys (37 punte na sewe oorwinnings) opgeskuif.

Benetton, wat een wedstryd minder gespeel het, is nou in die 13de posisie met 25 punte.

Die Lions was gister soms vuurwarm en ander kere weer yskoud.

Wanneer hulle die bal wyd gerek het, het snellers soos veral Edwill van der Merwe die oog getref. Sy langafstand-drie was ʼn juweel nadat die Lions van ʼn inskop af steelkant toe om is en Van der Merwe byna 50 meter verder gaan afrond het.

Die skrumskakel Morné van den Berg was soos gewoonlik baie woelig, terwyl die twee Tshituka-broers voorlangs weer die besoekers grys hare gegee het.

Hoewel daar baie aanskoulike bewegings was, was daar ook te veel hanteer- en oordeelsfoute, swak lynstaaningooie en is besit te maklik afgestaan. Boonop was die verdediging ook nie deurentyd na wense was nie.

Maar, kom ons vergeet die negatiewe en kyk vorentoe na ʼn onervare span wat gaandeweg vanjaar hul man gestaan het.

Ja, daar lê nog baie werk voor, maar die grondslag is dalk gelê met ʼn klomp avontuurlike jongelinge wat wíl speel.

Punte: Lions 37 (15): Drieë: Ruben Schoeman, Morne van den Berg, Edwill van der Merwe, Stean Pienaar, Jordan Hendrikse. Doelskoppe: Hendrikse (3). Strafdoele: Hendrikse (2).

Benetton 29 (22): Drieë: Rhyno Smith (2), Filippo Drago, Lorenzo Cannone. Doelskoppe: Smith (3). Skepdoel: Tomas Albornoz.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.