VRK-reeks: Lions sien rooi teen Dragons

(Foto: Facebook/Dragons RFC)

Dis sit nie in enige span se broek om ʼn wedstryd in die Verenigde Rugbykampioenskap met 25 punte te wen nie, al speel hy vir ʼn groot gedeelte van die wedstryd met net 14 spelers.

Dit het die Lions Saterdag voor slegs ʼn duisend of wat toeskouers op Ellispark getref toe hulle die Walliese Dragons met 49 – 24 getroef het.

Die Lions se slot Ruben Schoeman het reeds in die 25ste minute die trekpas gekry, maar hulle het kalm gebly, aanhou veg en was rustyd met 18 – 10 voor.

Schoeman se rooi kaart was baie straf, want hy het ʼn skop probeer afstorm en ʼn teenstanders getref.

Ongelukkig het die Italiaanse skeidsregter Andrea Piardi en die TV-skeidsregter, Gianluca Gnecchi, nie so gedink nie.

Maar gelukkig vir die Lions het die Dragons hul dissipline in Newport vergeet, want twee geel kaarte aan Rhodri Williams en Bradley Roberts het die span duur te staan gekom.

Roberts, wat op Michaelhouse in Kwazulu-Natal op skool was, kan baie gelukkig wees dat hy nie ʼn rooi kaart gekry het nie, want sy oortreding (blatante pootjie) was baie gevaarlik.

Die Lions het ʼn hele paar langafstand-drieë gedruk. Twee van hulle was byna van hul eie doellyn af toe die Dragons op die aanval was en op pad was om drieë te druk.

Dié drieë het aan die glorieryke dae onder die afrigters Johan Ackermann en Swys de Bruin laat terugdink, toe die Lions byna onstuitbaar was.

Die Lions het met hul sege oor die Dragons tydelik tot die sesde posisie opgeskuif, wat ʼn ware maatstaf van hul vermoëns is.

Met Edwill van der Merwe en Henco van Wyk aan die spits het hulle die Dragons skoon dronk gehardloop.

Met die hardwerkende Francke Horne wat voorlangs die vuur gestook het, het die besoekers geen kans in die hitte gehad nie.

Puntemakers: Lions 49 (18): Drieë: Henco van Wyk, Quan Horn, Edwill van der Merwe (2), Morné van den Berg, Francke Horn. Doelskoppe: Sanele Nohamba (5). Strafdoele: Nohamba (3).

Dragons 24 (10): Drieë: Harri Keddie, Ashton Hewitt, Bradley Roberts. Doelskoppe: Will Reed (3). Strafdoel: Reed.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.