VRK-reeks: Lions toon durf teen kragreus Leinster

Leinster en die Lions sê mekaar die stryd aan in Dublin. (Foto: Leinster/Facebook)

Dit gebeur nie aldag in rugby nie dat ʼn span slae kry en ook nie ʼn bonuspunt verower nie, maar steeds baie uit sy vertoning kan put.

Dit was Vrydagaand in Dublin die geval toe die Ierse kragreus Leinster die Lions met 21 – 13 in hul kragmeting in die Verenigde Rugbykampioenskap geklop het nadat die tuisspan rustyd met 7 – 6 voor was.

Ja, die Iere was baie verswak vanweë internasionale verpligtinge, maar Leinster is die pasaangeër in die reeks en het een van die beste voerbande om jong spelers na vore te laat tree. Hulle het immers reeds 45 drieë dié seisoen in die reeks gedruk teenoor die Lions se 19.

Die onervare Lions is vooraf geen kans gegee nie. Hulle moes vroeër in die week boonop twee van hul staatmakers, die vurige Tshituka-broers, op die OR Tambo-lughawe agterlaat omdat hul reisreëlings nie in orde was nie. Spelers soos André Warner was beseer en kon ook nie saamreis nie en dan is Burger Odendaal in die wedstryd van die veld af weens ʼn besering. En wat nog van vlugflouheid?

Maar die Lions se kanniedood-houding deur jongelinge soos die 20-jarige heelagter Quan Horn, die 19-jarige flank Ruan Venter (hy het in Vincent Tshituka se plek gespeel) en die skrumskakel Morné van den Berg, het hoop vir die toekoms gegee.

Saam met die strydros Jaco Kriel het hulle nie gaan lê nie.

Ja, daar was ʼn hele paar foute en soms verkeerde besluitneming, maar dit kan toegeskryf word aan ʼn gebrek aan ervaring.

Dave Kearney van Leinster teken punte aan in Dublin. (Foto: Leinster/Facebook)

As die spelers op dié vertoning kan voortbou, sal die Lions beslis nie in die 14de posisie op die punteleer bly nie.

Die afleiding wat ʼn mens maak, is dat die Lions die afgelope twee maande in Suid-Afrika gestagneer het deur weekliks teen die Bulls, Sharks of Stormers te speel.

Hul swakpunte is deur hul fisieke teenstanders uitgebuit en hulle kon nie hul wedstrydplan behoorlik uitvoer nie.

Nou was hulle weg van die huis af, sonder enige oënskynlike druk. Hulle het die eerste keer grondboontjiebotter en stroop op hul toebroodjies gekry nadat hulle weke lank net met Marmite-toebroodjies tevrede moes wees.

Hulle het die skrums oorheers en as Stean Pienaar nie deur Tommy O’Brien net kort van die doellyn af uitgeduik is op pad doellyn toe nie en as Jaden Hendrikse aan die begin nie met twee haalbare strafskoppe misluk het nie, kon sake selfs anders uitgedraai het.

Die grondslag is gelê en hoewel daar nog baie werk wag, kan die jongelinge hierop voortbou mits hulle kophou.

Punte: Leinster 21 (7): Drieë: Dave Kearney, Scott Penny, Michael Ala’alatoa. Doelskoppe: Ross Byrne (3).

Lions 13 (6): Drie: Jaco Kriel. Doelskop: Tiaan Swanepoel. Strafdoele: Jaden Hendrikse (2).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.