VRK-reeks: Ospreys waai Stormers weg

(Foto: Hansie Linde)

Tot en met Saterdagaand se kragmeting in die Kaapstad-stadion tussen die Stormers en die Walliese Ospreys in die Verenigde Rugbykampioenskap is die Stormers opgehemel.

Hul hoërisiko-rugby, waarin die spelers vrye teuels gegee word, is wyd en syd verkondig.

Maar toe gebeur die byna ondenklike toe die Ospreys die Stormers met 27-21 slae gegee het.

Dit was ʼn vrot vertoning, waarskynlik een van die Stormers se swakstes in die VRK-reeks, maar dis nie die einde van die wêreld nie, want die Stormers het nog vier wedstryde oor in die reeks om seker te maak dat hulle in die top-agt eindig.

Hul kanse om tuis in die kwarteindronde te speel het ʼn knou weg, want die Stormers is nou sesde op die puntelys. Die Ospreys het ook 40 ligapunte, maar het ʼn baie swakker punteverskil as die Kapenaars.

(Foto: Hansie Linde)

Vier spanne, Edinburgh, Connacht, Ulster en die Lions (almal 39 punte), blaas in die Stormers en Ospreys se nekke.

Die Stormers se laaste vier wedstryde in die groeprondes is tuis teen Leinster se jongelinge, gevolg deur twee wegwedstryde teen die Dragons in Newport, Connacht in Galway en ʼn laaste kragmeting tuis teen die Lions in Kaapstad.

Die Stormers behoort minstens drie van die wedstryde te wen, veral omdat Leinster hul melkbaarde vir ʼn tweede agtereenvolgende jaar op toer gestuur het en die Dragons sukkel om vuur te blaas.

Die kragmetings teen Connacht en die Lions gaan die Stormers se lot bepaal, want vir albei die spanne gaan die wortel om ook tussen die top-agt en uitspelrondes te eindig voor hulle hang.

(Foto: Hansie Linde)

Die vraag wat gevra word, is of die Stormers die Ospreys onderskat het, wat sonder verskeie van hul Walliese toetsspelers soos Jac Morgan, Dewi Lake, George North en Alex Cuthbert moes klaarkom terwyl Tom Botha geskors is.

Maar vir die Stormers-ondersteuners was dit hopelik net ʼn tydelike wekroep en sal hulle nie in hul doppe kruip en van hul positiewe ingesteldheid afstand doen nie.

Ja, die spelers sal vir hulself in die spieël moet kyk en vra waarom dinge verkeerd geloop het.

Hulle sal boetedoening moet doen en vra waarom hulle net twee drieë gedruk het en ʼn strafdrie gekry het nadat die sirene reeds geloei het.

(Foto: Hansie Linde)

Het Manie Libbok sy dwarskoppe kantlyn toe oordoen?

Hoekom het die Ospreys so skaflik in die skrums gevaar?

Maar die nederlaag is die broodnodige skietgoed wat die afrigter John Dobson nodig het om die spelers se voete op die grond te hou en om te verseker dat hulle nie weer verbrou nie.

Puntemakers: Ospreys 27 (17): Drieë: Luke Morgan (2), Sam Parry, Harri Deaves. Doelskoppe: Jack Walsh (2). Strafdoel: Walsh.

Stormers 21 (7): Drieë: Dan du Plessis, Evan Roos, strafdrie (7 punte). Doelskoppe: Manie Libbok (2).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.