VRK-reeks: Sharks blaas warm en koud teen Benetton

Curwin Bosch. (Foto: ANA)

Daar is baie dinge in rugby wat ʼn span onder die knie moet kry om te kan wen.

Soos om goed te kan skrum en spring, goed om besit in die los meeding, goed verdedig, goed skop, goed hanteer, ʼn goeie skakelpaar hê en genoeg vaardighede, vaart en spierkrag hê om drieë te kan druk en genoeg dissipline hê.

Die Sharks het Vrydagaand op Kingspark in die Verenigde Rugbykampioenskap teen Benetton veral goed geskrum, goed in die lynstane gevaar, genoeg besit in die los verower, goed geskop, ʼn skakelpaar gehad wat die toutjies getrek het en ses drieë gedruk om die Italianers met 43-33 te klop.

Dit was nie alles nog nie klopdisselboom nie, want Curwin Bosch moes in die doodsnikke aanlê pale toe om met ’n strafskop seker te maak dat die tuisspan in die wedloop bly om tussen die topagt te eindig om vir die kwarteindrondes te kwalifiseer.

Die Sharks was vroeg in die eerste helfte met 0-14 agter, het rustyd op 14-10 gaan draai en in die tweede helfte gaandeweg die oorhand gekry.

Hulle is danksy dié oorwinning sesde op die puntelys (46 punte) en lyk redelik veilig om vir die uitkloprondes te kwalifiseer.

Maar dan sal hulle steeds komende naweek ʼn oorwinning oor Munster in hul laaste groepwedstryd op Kingspark in Durban moet behaal om voor Connacht en die Bulls te eindig.

Aan die ander kant van die skaal is Leinster (74), Ulster (64), die Stormers (61) en die Glasgow Warriors (58) seker van tuisveldvoordeel.

Die Sharks is nie die volmaakte produk nie, want daar was benoude oomblikke teen Benetton, wat enduit bly veg het en met ondernemende spel vyf drieë gedruk het.

Eintlik ys ʼn mens om te dink wat die eindtelling sou gewees het as hulle die Sharks se pak voorspelers gehad het.

Aan die positiewe kant het die Sharks wedstrydwenners soos Makazole Mapimpi, Lukhanyo Am, Bosch en Grant Williams, met yster-voorspelers soos Thomas du Toit, Bongi Mbonambi, Oxe Nche, Siya Kolisi om voorlangs te oorheers.

Hulle is fisiek en gevaarlik op die aanval, maar daar is steeds haakplekke.

Stryk hulle dit uit, kan hulle verder vorder.

Punte: Sharks 43 (14): Drieë: Vincent Tshituka, Grant Williams (2), Siya Kolisi, Makazole Mapimpi (2). Doelskoppe: Curwin Bosch (5). Strafdoel: Bosch.

Benetton 33 (14): Drieë: Sebastian Negri, Ignacio Brex, Joaquin Riera, Edoardo Padovani, Tomas Albornoz. Doelskoppe: Albornoz (4).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.