VRK-reeks: Sharks leer Lions ʼn les

Curwin Bosch van die Sharks (Foto:
The Kasi Sports/Twitter)

Selfvertroue is een van daardie bestanddele waarsonder jy nie op ʼn rugbyveld kan klaarkom nie.

As jy veel daarvan het, kan dit jou aan die hakskeen byt, maar as jy ʼn tekort daaraan het, kan jy ʼn oorwinning maar op jou maag skryf.

Saterdagmiddag op Ellispark het dit gelyk asof die Lions van hul selfvertroue gestroop is en verleer het hoe om ander Suid-Afrikaanse spanne te klop, want die Sharks het hulle met 29-7 in die Verenigde Rugbykampioenskap (VRK) geklop nadat die rustydtelling 7-7 was.

Dit was die Lions se tiende agtereenvolgende nederlaag in die VRK teen ander SA franchises en ook hul vyfde opeenvolgende neerlaag in die VRK.

Dit was reeds vroeg in die eerste helfte duidelik toe die losskakel Gianni Lombard (gewoonlik betroubaar) met die eerste van drie redelik maklike strafdoele misluk het.

Die koppe het begin hang en die selfvertroue was daarmee heen.

Die rustydtelling van 7-7 het die Sharks gevlei en hulle moes gewonder het hoe hulle daarby uitgekom het.

Hulle is nege keer in die eerste helfte deur die skeidsregter Cwengile Jadezweni gestraf, onder meer omdat hulle tyd gemors het voordat ʼn lynstaan gevorm het.

Ook het die plaasvervanger-losvoorspeler en oud-Lion, Vincent Tshituka, ʼn geel kaart gekry.

Die Lions, afgesien van Marius Louw se puik drie waar hy Curwin Bosch op pad doellyn toe geklop het, het heelwat ander kanse gehad, gebiedsvoordeel geniet en genoeg besit gehad, maar kon dit nie benut nie.

Ja, daar was versagtende omstandighede, soos ʼn nat veld en glibberige bal, maar as ʼn mens op televisie kyk hoe van die oorsese spanne in reënweer gedy, is alles nie klopdisselboom nie.

Die Sharks, wat vyf ligapunte verdien het, is steeds agtste op die puntelys en hulle kruip al hoe nader aan die voorlopers, terwyl die Lions op 13de bly.

Punte:

Sharks 29 (7): Drieë: Curwin Bosch, Thaakir Abrahams, Fez Mbatha, Grant Williams. Doelskoppe: Bosch (3). Strafdoel: Bosch.

Lions 7 (7): Drie: Marius Louw. Doelskop: Gianni Lombard.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Frans ·

Daar is /n groot tekort aan ervare spelers by die Leeus en teen die tempo wat hy spelers aan ander unies afgestaan het lyk dinge taamlik beroerd vir die Unie,’n Meer ervare afrigter en nuwe werwingsprogram kan dalk ;n verandering bewerkstellig.
Dit duidelik dat as hul buurman met ‘n uitgebreide werwingsveldtog nie die suksesse behaal wat verwag word-die Leeus se gesukkel in perspektief plaas.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.