Dit bly ʼn raaisel waarheen die Sharks se vaardighede en selfvertroue verdwyn het.
Die Sharks het Saterdag op Kingspark hul wedstryd in die Verenigde Rugbykampioenskap teen die Iere se Connacht oorheers, maar hulle is met 13-12 geklop.
Die Sharks het besit en gebiedsvoordeel oorheers. Hulle het ʼn oormaat aan besit gehad, maar swak besluitneming, bottervingers, swak lynstaanwerk en ʼn gebrek aan speldissipline het hulle duur te staan gekom.
Dan het die losskakel Curwin Bosch en sy plaasvervanger Boeta Chamberlain twee maklike skoppe pale toe op kritieke stadiums verbrou.
Wat kommerwekkend is, is dat die Sharks sewe Springbokke, ʼn Blitsbok en ’n Skotse internasionale speler in die opdrafspan gehad het.
Die Sharks wil dié seisoen onder die afrigter John Plumtree vernuwing bring, hulle wil drieë druk en die toeskouers na Kingspark teruglok, maar tensy hulle drasties die verloorspook afskud, gaan die segelose nagmerrieseisoen voortduur.
Connacht, ondanks sy goeie begin in dié seisoen se reeks, is geen swaargewigte nie.
Die span word allerweë as die vierde swakste Ierse span in die reeks beskou, maar die wyse waarop hulle die Sharks in die stryd om die losbal ore aangesit het, hul rotsvaste verdediging, veggees en taktiese skopwerk deur die skakelpaar, die deurwinterde losskakel JJ Hanrahan en die skrumskakel Colm Reilly, het die Sharks se planne beduiwel.
Dan het Bosch die soveelste keer nie as losskakel oortuig nie. Hy het male sonder tal die voordeellyn probeer breek, maar het hom keer op keer vasgeloop.
Die heelagter Aphelele Fassi was soms ook te voorspelbaar, want hy wou byna elke keer oor die voordeellyn kom.
Voorlangs was daar ligpunte met die woelige haker Dylan Richardson wat aanhou veg het. Die oud-Bok-vaskopstut Coenie Oosthuizen se kraglopies was pure goud en Phepsi Buthelezi en Sikhumbuzo Notshe het soms goed gevaar.
Hou maar duim vas dat die Sharks se Wêreldbeker-Springbokke soos Eben Etzebeth en Makazole Mapimpi gou terugkeer om die nodige vonk te verskaf.
Dalk kan hulle die Sharks se selfvertroue herstel, want as die span aanhou speel soos teen Connacht, gaan Kingspark nog leër loop.
Puntemakers: Connacht 13 (10): Drieë: Sean O’Brien. Doelskoppe: JJ Hanrahan. Strafdoele: Hanrahan.
Sharks 12 (5): Drieë: Sikhumbuzo Notshe, Werner Kok. Doelskop: Curwin Bosch.
Beaten but not beat, the fight continues. #FearTheFin @Vodacom #URC #SHAvCON pic.twitter.com/4Uev7ve5lW
— The Sharks (@SharksRugby) November 19, 2023
Curwin Bosch is die mees oorskatte speler in SA.Hoeveelwedstryde het die Sharks al verloor. deur sy toedoen.Swak besluitneming,swak kantlyn skoppe,en dan verkondig hy,hy wil weer Springbok speel.As jy klaar jou lugkastele gebou het bel my dan varf ek dit.