VRK-reeks: Sharks wen in die Leeukuil

Argieffoto van Makazole Mapimpi (Oktober 2019) (Foto: Anne-Christine Poujoulat/AFP)

Dit was dalk nie ʼn feesmaal vir die fynproewer nie, want jy kan mos nie van die spelers verwag om in Januarie rugby te speel nadat hulle ʼn hele paar weke laas in aksie was nie?

Maar tog was daar baie om oor te gesels vir die 2 000 toeskouers wat op Ellispark was, want daar was heelwat opwinding.

Die Sharks het die Lions met 47-37 in hul kragmeting in die Verenigde Rugbykampioenskap geklop, ʼn bonuspunt verdien en hul derde oorwinning in die reeks behaal.

ʼn Troosprys vir die Lions was ʼn bonuspunt vir vier of meer drieë.

Spel het heen en weer gevloei en dit was amper ʼn geval van een vir jou en een vir my.

Die 11 drieë (ses deur die Sharks en vyf deur die Lions) getuig dalk nie van rotsvaste verdediging nie, maar tog verdien die Sharks se Springbokvleuel Makazole Mapimpi al die lof wat aan hom toekom nadat hy ʼn driekuns aan drieë behaal het. Sy vaart, voortgevoel en goeie opvolgwerk het welverdiend aan hom die Speler van die Wedstryd-toekenning besorg.

Sy mede-Springbokke Aphelele Fassi, Sbu Nkosi en Lukhanyo Am was ook gevaarlik op die aanval.

Die Sharks, met ’n ligter pak, het hul kanse gebruik deur die bal wyd te speel. Hulle het ook daarin geslaag om die Lions se lynstane te ontwrig.

Tog het die Lions nie gaan lê nie en enduit bly veg. Was dit nie ʼn ietwat omstrede drie in die doodsnikke nie, kon die Lions twee bonuspunte verdien het.

Dit was heel te verwagte dat daar ʼn bietjie roes by albei spanne sou wees, maar die Sharks se Bok-agterspelers was kookwater en aan die Lions se kant was Wandisile Simelani gevaarlik wanneer hy kanse gekry het. Die Lions se twee skrumskakels André Warner en plaasvervanger, Morne van den Berg, was ook op hul stukke.

Punte: Lions 37 (18): Drieë: André Warner, Wandisile Simelane, Ruben Schoeman, Edwill van der Merwe, Morne van den Berg. Doelskoppe: Fred Zeilinga (2), Tiaan Swanepoel. Strafdoele: Zeilinga (2).

Sharks 47 (27): Drieë: Aphelele Fassi, Makazole Mapimpi (3), Kerron van Vuuren, Lukhanyo Am. Doelskoppe: Boeta Chamberlain (3), Joaquin Bonilla. Strafdoele: Chamberlain (2), Bonilla.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
MAGRIETHA

Lions was ietwat ongelukkig, met n sharkspan vol springbokke moes die telling veel hoer gewees het

piet

Sharks het ‘n giftige agterlyn. As hulle ‘n paar veranderings in die voorspelers kan aanbring (goeie slotte kry en so aan) gaan hulle moeilik wees om te klop. Waarskynlik reeds die sterkste span in SA.