VRK-reeks: Sooibrand vir Bulls en Sharks

Die Glasgow Warriors het Vrydag ʼn oorwinning van 17-11 oor Ulster behaal (Foto:
Glasgow Warriors/Twitter)

Die noodligte het Vrydagaand rooi vir die Bulls en Sharks geflikker en nuwe betekenis aan Saterdag se wedstryde in die Verenigde Rugbykampioenskap onderskeidelik teen die Stormers en Lions gegee.

Nadat die Glasgow Warriors ʼn oorwinning van 17-11 oor Ulster in uiters gure toestande op Scotstoun in Glasgow behaal het, het hulle die Bulls uit die vierde posisie gedruk.

Ulster, wat ʼn bonuspunt behaal het deur nie met meer as sewe punte te verloor nie, het verbete aan hul derde posisie geklou.

Nog slegte nuus vir die Jakarandastad was dat Munster later Vrydagaand ʼn wegholsege van 57-3 oor die sukkelende Walliese Ospreys behaal het om ook die Bulls op die puntelys verby te steek en tot vyfde te laat afskuif.

Leinster is steeds voor met 61 punte, gevolg deur die Stormers (50), Ulster (44), Glasgow (43), Munster (42), Bulls (40), Benetton (34) en dan die Sharks (33) wat twee wedstryde minder as die ander spanne gespeel het.

Wat wel in die guns van die Bulls tel, is dat hulle nog net teen Ulster weg van die huis af speel en dan met drie tuiswedstryde teen die Lions, Zebre en Leinster afsluit voordat die uitkloprondes bepaal word.

Die Sharks speel nog tuis teen Ulster, Benetton en Ulster weg teen die Lions, Scarlets en Stormers.

Dit was die Glasgow Warriors, wat deur Franco Smith afgerig word, se negende sege in hul afgelope tien wedstryde.

Die deurdringende reën het Glasgow byna gepootjie, maar hulle het enduit aan hul voorsprong geklou.

* Op Thomond Park in Limerick (Ierland) was Gavin Coombes met ʼn driekuns aan drieë Munster se uitblinker, met Malakai Fekitoa, Antoine Frisch en Joey Carberry wat voor rustyd (27-3) ook drieë gedruk het, terwyl Paddy Patterson, Simon Zebo en Shane Daly ná rustyd verder afgerond het.

Albei spanne was sonder hul ster-spelers wat in die Sesnasies-reeks speel, hoewel die Ospreys geen raad vir die fisieke spel van Munster gehad het nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.