VRK-reeks: Stormers loop deur teen Connacht

Die Stormers en Connacht sê mekaar die stryd aan in Galway. (Foto: Evan Treacy via DHL Stormers)

Hier gaan ons al weer.

Nog ʼn swak skeidsregter, nog ʼn nederlaag vir ʼn Suid-Afrikaanse rugbyspan oorsee.

Saterdagmiddag in Galway was dit die Stormers se beurt om onder die skril fluitjie van die Skotse skeidsregter Ben Bain deur te loop, wat daartoe gelei het dat Connacht hul kragmeting in die Verenigde Rugbykampioenskap met 19 – 17 gewen het.

Hoe is dit moontlik dat hy net 12 strafskoppe in die hele wedstryd toegeken het – agt aan Connacht en net vier aan die Stormers?

Voeg daarby twee geelkaarte aan Sergeal Peterson (bal geklap) en Ruhan Nel (gevaarlike duikslag) en siedaar… die Stormers was teen die planke.

Dis nie net suur druiwe nie, want as daar na die statistieke gekyk word, moes die tuisspan gewen het.

Hulle het meer gebiedsvoordeel geniet en besit oorheers (onderskeidelik 64% teen 36% en 70% teen 30%).

Hulle het baie minder duikslae uitgevoer (117 teenoor die Stormers se 154) en baie verder met die bal gevorder en baie meer die bal uitgegee. Connacht het glo net twee duikslae gemis en die Stormers 12.

Hoekom word dan oor die uitslag gekla, veral omdat die Stormers se dissipline gelol het?

Omdat die Stormers geen momentum kon opbou in vreemde toestande op ʼn piepklein veld nie.

Die oudtoetsskeidsregter Tappe Henning is onlangs deur die VRK-base aangestel as die hoof van skeidsregters en hy skuld die Stormers minstens ʼn verduideliking of gaan Bain se vertoning onder die mat gevee word?

Vir die Stormers was dit ʼn dure les te leer. Moenie dat die skeidsregter onder jou vel inkruip nie, hou by jou dissipline en spelpatroon en sorteer dinge later uit.

En pas maar by die toestande aan, want dit is die Suid-Afrikaanse spanne se voorland oorsee.

Punte: Connacht 19: Drieë: Paul Boyle, Tom Daly, Peter Sullivan. Doelskoppe: Conor Fitzgerald (2).

Stormers 17: Drieë: Sergeal Peterson, Manie Libbok, Damian Willemse. Doelskoppe: Libbok (2).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.