VRK-reeks: Stormers se soet en suur in Stellenbosch

(Foto: Hansie Linde)

Die Stormers se soet nadat hulle Benetton Vrydagaand in die Danie Craven-stadion in Stellenbosch met 38-22 in hul laaste groepwedstryd in die Verenigde Rugbykampioenskap geklop het, was van korte duur, want Ulster het dit ʼn ruk later versuur toe hulle Edinburg met 28-14 verslaan het.

Ulster se oorwinning beteken dat hy tweede op die puntelys bo die Stormers ingeskuif het. Albei het op 68 punte geëindig, maar Ulster se punteverskil (176 teenoor 140) het die Stormers tot die derde plek laat afskuif.

Die Stormers sal dus oor twee weke in die kwarteindrondte tuis teen die span speel wat sesde eindig. Maar na alle waarskynlikheid wag ʼn halfeindstryd en ’n eindstryd weg van die huis af.

(Foto: Hansie Linde)

Drie spanne, Munster (53), Connacht (49) en die Bulls (48 punte), kan sesde eindig, afhangende van hul uitslae Saterdagmiddag onderskeidelik teen die Sharks in Durban, die Glasgow Warriors in Glasgow en Leinster op Loftus Versfeld in Pretoria.

Geoordeel na die Stormers se lustelose vertoning in die eerste helfte teen Benetton toe hulle met slegs 12-10 voorgeloop het, wag daar slae op die Stormers, maar speel hulle soos in die tweede helfte, kan hulle verder vorder.

Boonop is Seabelo Senatla (harsingskudding en moontlike rugbesering) en Ruben van Heerden (kniebesering) straks op die beseringslys.

(Foto: Hansie Linde)

Die Stormers het vanjaar ʼn hele paar keer warm en koud geblaas en hul dissipline laat hulle ook in die steek.

Die belowende agtsteman Evan Roos het ʼn geel kaart gekry nadat hy ’n teenstander se kop onnodig in die grond gedruk het (dit is nie eerste keer dat hy dieselfde oortreding begaan nie).

Neem maar ʼn les uit Duane Vermeulen se boek. Hoeveel keer oortree hy en knou hy sy teenstander onnodig voor al die wedstrydbeamptes en meer as tien TV-kameras af?

(Foto: Hansie Linde)

Die Stormers het wedstrydwenners soos Damian Willemse, Dan du Plessis, Ruhan Nel, Manie Libbok, hul twee Springbok-stutte, Steven Kitshoff en Frans Malherbe, Marvin Orie en die baljagter Deon Fourie, wat binnekort na sy besering terugkeer.

Maar hulle sal bestendigheid hul wagwoord moet maak, want dit ontbreek in kritieke stadiums.

Ook sal hul verdediging moet verbeter, want om 30 van 123 duisklae te mis, is beslis nie kampioenskapmateriaal nie.

Maar dalk word daar met die witbrood onder die arm gekla, want om ʼn tweede opeenvolgende seisoen tussen die topspanne te eindig, verdien sekerlik ʼn groot klop op die skouer.

Puntemakers:

Stormers 38 (12): Drieë: Angelo Davids, Willie Engelbrecht (2), JJ Kotze, Clayton Blommetjies, Marcel Theunissen. Doelskop: Manie Libbok (4).

Benetton 22 (10): Drieë: Alessandro Izekor, Manuel Zuliani, strafdrie. Doelskop: Tomas Albornoz. Strafdoel: Albornoz.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.