VRK-reeks: Stormers stippel pad na uitspeelrondes uit

(Foto: Stormers/Facebook)

Wanneer jy rugby op enige vlak speel, moet jy beskeie bly en jou teenstanders altyd respekteer.

Dit het die Glasgow Warriors Vrydagaand in Kaapstad agtergekom toe die Stormers ʼn bonuspuntoorwinning van 32-7 behaal het nadat hulle rustyd met 13-7 voor was.

Die Stormers het tydelik tot die tweede posisie (52 punte) op die Verenigde Rugbykampioenskap se punteleer ingeskuif en het twee punte meer as die Warriors (50 punte).

Ewe skielik wink ʼn tuiswedstryd in die kwarteindronde en moontlik ook tuis hierna.

Die Warriors was die afgelope paar dae in Kaapstad glo vol bravade voor die kragmeting met die Stormers.

Dalk het die oud-Skotse slot Jim Hamilton die vuur tuis probeer aanblaas toe hy gesê het die Warriors sal nie ʼn duit vir die fisieke aanslag van die Stormers hoef terug te staan nie.

Maar toe volg ʼn monsterskrum deur die Stormers kort ná die afskop en die slag was geslaan.

Die Warriors het ook reg in die Stormers se hande gespeel deur vroeg ʼn paar strafskoppe binne trefafstand hoek toe te skop.

Arrogant?

Hulle het wel ʼn drie gedruk toe Jack Dempsey oor is, maar hoewel hulle ná 30 minute nog met 7-0 voor was, kon hulle nie hierop voortbou nie.

Boonop is hulle male sonder tal deur die Ierse skeidsregter Andy Brace gestraf.

Dit laat ʼn mens kwaai kopkrap hoekom die Suid-Afrikaanse spelers oorsee deurgeloop het onder die fluitjie, maar sonder enige probleme tuis by die oorsese blasers aanpas.

Dan was die Stormers se vlugvoetige Warrick Gelant, Damian Willemse, Rikus Pretorius, Leolin Zas, Manie Libbok en Herschel Jantjies glad te vinnig en vaardig vir die amperse loodvoetige Warriors.

Voorlangs was die Springbok-voorry van Steven Kitshoff, Scarra Ntubeni en Frans Malherbe gans te sterk vir die Warriors se skrum en het Evan Roos en Hacjivah Dayimani te veel skietgoed vir die Skotte gehad.

Daar was wel ʼn paar haakplekke in die eerste halfuur, skewe ingooie in die lynstane en verbroude duikslae, maar toe die Stormers eers die spinnerakke afgeskud het, was dit pure plesier.

Punte: Stormers 32 (13): Drieë: Rikus Pretorius, Herschel Jantjies, Leolin Zas, Evan Roos. Doelskoppe: Manie Libbok (3). Strafdoele: Libbok (2).

Glasgow Warriors (7): Drie: Jack Dempsey. Doelskop: Ross Thompson.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.