VRK-reeks: Stormers trap Sharks se tjank af

(Foto: Hansie Linde)

Vergeet maar van Nuweland, die Kaapstad-stadion in Groenpunt is die Stormers se grootste bondgenoot in rugby.

Die Stormers, ondanks die feit dat hulle vir byna die laaste tien minute in Saterdag se kragmeting in die Verenigde Rugbykampioenskappe teen die Sharks met net 13 spelers moes klaarkom, het met 29-23 gewen nadat hulle rustyd met 19-5 voor was.

Dit was die Stormers se 11de opeenvolgende oorwinning in dié stadion. Hulle het boonop, met nog drie wedstryde in die uitspeelrondes oor, die Skild as die beste Suid-Afrikaanse span in die VRK-reeks gewen en byna seker daarvan gemaak dat hulle tweede sal eindig.

Die Sharks is steeds sewende met 41 ligapunte en moet nog teen die Walliese Scarlets in Llanelli en tuis teen Benetton en Munster afrond.

Die Sharks behoort tussen die topagt te eindig om tot die uitspeelrondes deur te dring, maar een van hul probleme is dat die voorste Walliese span, ongeag daarvan of hy tussen die topagt eindig, verseker van ʼn plek in die uitspeelrondes is.

(Foto: Hansie Linde)

Die Sharks is Saterdag kwaai deur die skeidsregter AJ Jacobs gestraf. Maar dan het die Stormers se Sazi Sandi en Seabelo Senatla geelkaarte vir herhaalde spanoortredings en ongeoorloofde spel (pootjie) gekry.

Die Stormers het die Sharks in die skrums geboelie en hulle het ook aan die agterspeen gesuig met Deon Fourie-hulle wat hul besit stadig gemaak het.

Ook kon hul agterlyn baie selde oor die voordeellyn kom.

Maar ondanks die Stormers se oorheersing, moet die Sharks tog vir hul veggees geloof word toe hulle byna daarin geslaag het om die Stormers te ontspoor.

Wanneer die Sharks hul yster-Springbokke terugkry na hul verpligte ruskans en nasionale oefenkampe, gaan hulle hul man behoorlik staan.

Maar gaan dit nie dalk te laat wees nie?

Die Stormers, wat soms rooiwarm was, moes eintlik baie verder gewen het, want hulle het minstens twee drieë laat verlore gaan toe Herschel Jantjies en Suleiman Hartzenberg die bal oor die Sharks-doellyn verloor het.

Maar gee alle krediet dat hulle daarin kon slaag om spel te vertraag en die laaste tien minute die golf met net 13 spelers te stuit.

Puntemaker: Stormers 29 (19): Drieë: Sacha Feinberg-Mngomezulu, Ben-Jason Dixon, Clayton Blommetjies (2). Doelskoppe: Manie Libbok (3). Strafdoel: Libbok.

Sharks 23 (5): Drieë: Yaw Penxe, Rohan Janse van Rensburg, Grant Williams. Doelskop: Curwin Bosch. Strafdoele: Bosch (2).

* Die protesoptog wat voor die wedstryd deur ontevrede klubs in die Westelike Provinsie buite die stadion gereël is teen die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru), het volgens berigte net ʼn muis gebaar toe skaars sowat 45 mense opgedaag het.

Die protes was gemik teen Saru se volgehoue administrasie van die Westelike Provinsie Rugbyunie (WPRU) sedert Oktober 2021. Die ontevrede klubs sê ook dat die WPRU se grondwet deur Saru geminag word en hulle eis dat die WPRU ’n gelyke aandeelhouer in ’n eiendomsontwikkeling by Nuweland moet wees eerder as dat dit ten volle van die hand gesit word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.