VRK-reeks: Ulster en Edinburgh bult hul spiere

Duane Vermeulen in aksie vir Ulster (Desember 2021) Foto: Twitter.

Dit was nou nie die nuus wat die vier Suid-Afrikaanse spanne in die Verenigde Rugbykampioenskappe Saterdagoggend aan die ontbyttafel wou hoor nie. Twee van die voorlopers, Ulster en Edinburgh, het Vrydagaand hul kanse om vir die uitspeelrondes te kwalifiseer, verder verstewig.

Ulster het met sy oorwinning van 48-12 oor Cardiff (rustyd 22-0) in die Kingspan-stadion in Belfast tot die eerste plek op die punteleer (45 punte) opgeskuif, maar die kanse is baie goed dat Leinster (43) weer die voorsprong sal neem wanneer die Iere Saterdagmiddag teen Benetton speel.

Die fisieke Ulster-span, met Duane Vermeulen wat as plaasvervanger-flank in die tweede helfte opgestuur is, het sewe drieë teen Cardiff gedruk.

Edinburgh het in die Dam Heath-stadion in Edinburg ʼn maklike oorwinning van 56-8 oor Connacht behaal nadat hulle rustyd met 21-8 voor was.

Die Skotte het ook sewe drieë gedruk nadat hulle vroeg in die eerste helfte met 0-8 agter was.

Dit laat ʼn mens wonder hoe die Stormers, wat verlede Saterdag teen Connacht slae gekry het, die mas gaan opkom wanneer die oorsese spanne se Sesnasies-spelers oor drie weke weer beskikbaar gaan wees.

Edinburgh (39 punte) is nou vierde op die puntelys en sal na alle waarskynlikheid saam met Leinster, Ulster, Munster, die Glasgow Warriors en dalk twee SA spanne en een of twee Walliese span in die kwarteindronde speel.

Die SA spanne kan oor die volgende drie weke die puntelys deurmekaarkrap wanneer hulle tuis speel, maar hulle sal straks vir die uitspeelwedstryde oorsee moet reis en die topspanne daar op volle sterkte aandurf.

Wat kommerwekkend is, is dat die Sharks (27), Stormers (26), Bulls (22) en Lions (35) meer drieë as Ulster (19), Leinster (15), Glasgow (20) en Munster (14) afgestaan het, hoewel hulle boonop minder wedstryde gespeel het. Ook het hulle baie minder drieë gedruk.

Puntestand (wedstryde tussen hakies): Ulster 45 (12), Leinster 43 (11), Glasgow 39 (11), Edinburgh 39 (12), Munster 34 (10), Connacht 28 (13), Ospreys 26 (11), Sharks 26 (10), Stormers 24 (10), Bulls 23 (10), Benetton 23 (11), Cardiff 18 (8), Scarlets 17 (8), Lions 12 (10), Dragons 11 (9), Zebre 1 (8).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.