Curriebeker: Vrystaat-Cheetahs draai die krane ná donderweer oop

(Foto: @CheetahsRugby/Twitter)

Daar was Saterdag ʼn hele paar benoude oomblikke in die Vrystaat-Cheetahs se kleedkamer in Bloemfontein toe donderweer en weerlig hul Curriebekerwedstryd teen die Leeus ná net 20 minute tot ʼn halt gebring het.

Die Cheetahs was met 17-0 voor, maar as die donderweer nie opgeklaar het nie, sou daar geen uitslag gewees het nie, want die reëls bepaal dat die eerste helfte reeds voltooi moes gewees het om ʼn uitslag moontlik te maak.

Die spanne het ná sowat 25 minute teruggekeer het (slegs ’n minuut voor die afsnypunt) en toe was daar geen keer aan die Cheetahs nie, want hulle met 66-14 gewen.

Dit was boonop op ʼn nat veld en met ʼn glibberige bal, maar die Cheetahs het op al hul suiers gevuur en nege drieë gedruk om saam met die Haaie, wat die Pumas Vrydagaand in die Mbombela-stadion getroef het, die pas in die Curriebekerreeks aan te gee.

As die Cheetahs so speel, weet ek nie of daar enige span (behalwe as hulle teen die Bulle speel en die span word met ʼn magdom Verenigde Rugbykampioenskapspelers gelaai), geklop sal word nie.

Daar is hope vaart agterlangs en as Rosko Specman van sy besering herstel het, gaan daar min keer aan die Vrystaters wees.

Voeg daarby die ervaring van Frans Steyn, Robert Ebersohn en Ruan Pienaar en die Vrystaat is volstoom op pad eindstryd toe.

Boonop raak die voorspelers al meer gedug en stuit hulle vir min. Hulle skrum goed, wen hul eie lynstane en Jeandré Rudolph is ʼn yster in die los.

Vir die Leeus was dit weer ‘m leerskool om hoe teen ʼn vaardige span vol spelbrekers en spelskeppers, kop bo water te probeer hou.

Dis ʼn harde en genadelose leerskool en sake kan nie binne ʼn japtrap omgekeer word nie.

Punte: Vrystaat-Cheetahs 66 (38). Drieë: Malcolm Jaer, Daniel Kasende (2), Wilmar Arnoldi, Gideon van der Merwe (2), Strafdrie (7 punte), Louis van der Westhuizen, Conraad van Vuuren, Juandré Rudolph. Doelskoppe: Ruan Pienaar (5), Frans Steyn, Reinhardt Fortuin.

Leeus 14 (7). Drieë: Jarod Cairns, PJ Botha. Doelskoppe: Tiaan Swanepoel (2).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.