VRK-rugbyreeks: Diepte kan grootste rol speel

Die Glasgow Warriors het Vrydagaand op hul tuisveld na die tweede posisie op die puntelys opgeskuif toe hulle ʼn oorwinning van 13-10 (rustyd 10-3) oor Munster behaal het (Foto: Glasgow Warriors, Twitter)

Die ou uitdrukking van by die agterdeur inglip kan vanjaar nog ʼn groot rol in die Verenigde Rugbykampioenskap speel.

Die Glasgow Warriors (sonder ʼn rits spelers wat Saterdag vir Skotland in die Sesnasies-reeks speel) het Vrydagaand op hul tuisveld na die tweede posisie op die puntelys opgeskuif toe hulle ʼn oorwinning van 13-10 (rustyd 10-3) oor Munster behaal het.

In Vrydagaand se ander wedstryd het Leinster (ook sonder ʼn gros toetsspelers) sy aanslag behou toe hy Edinburgh met 26-7 (rustyd 14-0) in Dublin vir ʼn bonuspuntsege geklop het.

Edinburgh, wat ook heelwat verswak was, het sy voorste posisie afgestaan en afgeskuif na die derde posisie.

Met die Covid-19-pandemie nou hopelik byna op sy rug kan die vier Suid-Afrikaanse franchises (Stormers 18 punte ná agt wedstryde, Sharks en Bulls met 16 punte en Lions met 12 punte) nog almal hul posisies verstewig om in die uitspeelrondes betrokke te wees, veral omdat nie een van die oorsese spanne al in Suid-Afrika gespeel het nie.

Vier spanne was wel aan die einde van verlede jaar in die land, maar die kragmetings is vanweë Covid-19 uitgestel.

Elke span moet 18 wedstryde speel en die agt topspanne dring deur tot die kwarteindrondes wat op 3, 4 en 5 Junie beslis word.

Dit laat die vraag ontstaan of die Europese spanne genoeg diepte sal hê om hul aanslae vol te hou.

Leinster (wat steeds 11 spelers met internasionale ervaring gehad het) het beslis genoeg diepte om sy man steeds te kan staan, maar Edinburgh, Glasgow en Munster het maar dunnerig om die lyf gelyk.

Edinburgh maak staat op buitelandse spelers soos die twee Pumas, Emiliano Bofelli, Ramiro Moyana, die Suid-Afrikaners Jaco van der Walt, Kwagga van Niekerk, Henry Immelman en Boan Venter en die Fidjiaan Mesu Kunavula om kop bo water te hou terwyl die Sesnasies-reeks plaasvind, maar daar was geen sinergie nie.

Munster, met ervare spelers soos Jean Kleyn, Simon Zebo en Chris Cloete in die opdrafspan, was teleurstellend.

Boonop sal die Walliese spanne ook aan die agterspeen suig wanneer hulle sonder hul toetsspelers teen die vier Suid-Afrikaanse spanne op volle sterkte in die middel van die somer speel.

* Puntestand ná Vrydag se wedstryde: Ulster 36, Glasgow 35, Leinster 34, Edinburgh 34, Munster 24, Ospreys 26, Benetton 23, Connacht 20, Cardiff 19, Stormers 18, Sharks 16, Bulls 16, Scarlets 16, Lions 12, Dragons 11 en Zebre 1.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.