Vrot Rebels had geen antwoord toe Kings begin hardloop nie

Verloor word ʼn gewoonte, sê hulle, maar die teenoorgestelde is ook waar.

Die Southern Kings het verlede naweek in Australië met 26-24 teen die Waratahs afgereken, en Saterdagaand het hulle die Rebels behoorlik met 44-3 in die Baai gelooi.

Vol punte aan die Kings, onder die valbyl met die vermindering van die aantal Suid-Afrikaanse spanne uit aanstaande jaar se Superreeks. Daar moet ook ʼn pluimpie gaan aan hulle afrigter Deon Davids wat die Kings vanjaar saamgesnoer het met ʼn klein begroting en spelers wat nie elders juis bekend of in aanvraag is nie.

Toegegee, die Rebels het in die tweede helfte moontlik ʼn nuwe laagtepunt met hul vrot spel daargestel nadat hulle verlede week in Durban, saam met die Sharks, vir ʼn laagtepunt-wedstryd gesorg het.

In die eerste helfte moes die Kings redelik kwaai walgooi teen die besoekers wat gebied en besit oorheers het. Die rustydtelling was slegs 11-3 in die Kings se guns.

Na rustyd het Lionel Cronjé-hulle vyf drieë gedruk, nie een afgestaan nie en pragtige ondersteunende rugby gespeel. Goeie opsies en hantering op vol spoed het dit ʼn lekker kyk-wedstryd, veral in die tweede helfte, gemaak ondanks die traak my nie-houding benadering van die Rebels na rustyd.

Wat veral die oog gevang het is die wyse waarop daar altyd iemand by was om te ondersteun wanneer die Baaienaars aan die hardloop gegaan het.

♦  Daar was ook ʼn man wie se spel nie ʼn verrassing is nie, maar ʼn beklemtoning van sy gehalte en die indruk wat hy tot dusver gemaak het.

Makazole Mapimpi het in ʼn sukkelende span vanjaar al sewe drieë gedruk en straal gehalte uit. Hy het teen die Rebels gedruk, en ook twee keer drieë help maak.

Mapimpi, wat in Julie 27 word, is deur die Vrystaat Cheetahs gekontrakteer en verhuis na die Superreeks soontoe om in Bloemfontein sy Curriebekerrugby te speel.

Puntemakers –

Southern Kings (11) 44: Drieë: Wandile Mjekevu, Martin Bezuidenhout, Tyler Paul, Pieter-Steyn de Wet, Makazoli Mapimpi, Masixole Banda. Doelskoppe: Lionel Cronjé, De Wet 3. Strafdoele: Cronjé 2.
Rebels 3 (3): Strafdoel: Reece Hodge.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Nico ·

Dink net watter formilidale span kon Kings vandag gewees het as SARU bv. in 2010 reeds besluit het dat die Kings in 2013 Superrugby gaan speel. Hulle sou toe tyd gehad het om ‘n goeie span bymekaar te kry. As kennets eerlik wil wees moet almal erken dat Kings vanjaar veel meer wedstryde moes wen en met ‘n bietjie meer geluk kon hulle al 3 wedstryde op toer gewen het. So maak plan en hou Kings in Superrugby.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.