Vryheid kry honderdtal in Noord-Natalse liga

ʼn Onkeerbare Vryheid het Saterdag ʼn honderdtal op Arborpark, Newcastle, in die Noord-KwaZulu-Natalse Subunie (NKZNRU) se senior liga opgestapel.

Die klub, wat deur ʼn gewese Superrugbyspeler van die destydse Cats en ʼn lid van die SA Amateurspan van 2007, Rich Verster, afgerig word, het Mighty Buffaloes in die eerste ronde ligawedstryde van die seisoen met 104-0 gestoomroller.

Francois Scheepers het 33 van die wenspan se punte behaal, en Sticks Mbatha het vier keer agter die doellyn gaan kuier.

Verster sê ongeag Vryheid se totale oorheersing was die gehalte van sy strukturele spel deurgaans opvallend.

“Die opbou van fases het volop ruimte vir die druk van drieë aan die buitekant geskep.”

Verster sê Vryheid het absoluut oorheers.

“Hy het al sy eerstefaseballe met presiese skrum- en lynstaanwerk gewen, en Lwazi Ndluli was soos klokslag aan die voorpunt.

“Die agttal se steunspel was briljant, met Anton van der Walt en Francois Webb uitmuntend in dié opsig. Vryheid se hand-tot-handaangeewerk het die tuisspan onder enorme druk geplaas.

“Die slim hardlooplyne en vaardighede agterlangs het daartoe gelei dat die buite-agterspelers Sticks Mbatha (vier) en Khumbulani Khoza (twee) ses van die wenspan se 16 drieë gedruk het.”

Die skoppers Francois Scheepers (70%) en Juan Booyens (100%) se akkuraatheid het verdere sout in die Buffaloes se wonde gevryf.

Scheepers se 33 punte het uit drie drieë en 18 doelskoppe bestaan, en Booyens het benewens ʼn drie met drie doelskoppe geslaag (11 punte).

Francois Lindeque (drie), Matthew Stride (twee) en Anton van der Walt het Vryheid se ander drieë gedruk.

♦ In nog ʼn wedstryd op Arborpark het Vryheid se tweede span Ladismith Wolves met 35-8 oorrompel.

Verster sê Johannes Kruger het uitgeblink in ʼn wedstryd waarin Vryheid uit die staanspoor sy gesag afgedwing en vyf drieë gedruk het.

Devon Aspden het al vyf verdoel.

♦ Vryheid speel Saterdag tuis teen die sterk span van Piet Retief. Die tweede span speel 14:00 en die eerste 15:30.

Die kaptein, Tinus Scheepers, het die span se ondersteuners laat weet Vryheid sal Saterdag al die ondersteuning nodig hê wat hulle kan kry.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.