Vrystaaaaat!

Uzair Cassiem - speler van die wedstryd (Foto supporters.irishrugby.ie)

Uzair Cassiem – speler van die wedstryd (Foto supporters.irishrugby.ie)

Daar kan geen twyfel wees nie: die Vrystaat Cheetahs is onteenseglik Suid-Afrika se heel beste provinsiale rugbyspan.

Hulle het die Blou Bulle Saterdag met heerlike hardlooprugby 36-16 in die Curriebekereindstryd in Bloemfontein geklop.

Belangrik soos dit vir die Vrystaat en die 43 400 toeskouers was, is daar ook die wete dat die Curriebeker nog tel.

Afgewater? Watwo! Die passie op die pawiljoen en op die veld, die afwagting in Bloemfontein, eintlik die hele Vrystaat-provinsie en Pretoria, en die harde maar lekker rugby wat opgedis is, het gewys dit is steeds, na 124 jaar sedert die eerste kompetisie in 1892, Suid-Afrika se grootste rugbyprys.

Dit was nie altyd die heel beste wat die Vrystaat in ʼn onoorwonne seisoen opgedis het nie. Daar was pragtige individuele breekslae, maar die samespel en aansluiting wat verlede week teen die Goue Leeus opvallend wees, was minder teenwoordig.

Die Cheetahs het letterlik elke faset oorheers. In die skrums het die Bulle wel hier en daar gegaffel, maar dit was nie genoeg nie.

Die wedstryd het teen ʼn geweldige pas afgesit. Die Vrystaat Cheetahs het duidelik  besluit om die Bulle uit die staanspoor oor hulle eie vermoë te laat twyfel. Vaart, man-oor-gevalle, breekslae deur veral Clayton Blommetjies, Sergeal Petersen en Raymond Rhule wat al drie deurgaans uitmuntend was, en uitstekende verdediging deur die Blou Bulle het die wedstryd gekenmerk.

Daar was heelwat foute, veral van die Vrystaat se kant. Was dit nie daarvoor nie, was die telling dalk iets ysliks.

Die eerste van die Vrystaat se twee drieë het eers in die 63ste minuut gekom. Dit vertel van die Vrystaatse foute maar ook van die Bulle se verdediging – en ook dat die Bloutruie merendeels in hul eie gebied en onder druk was en strafskoppe afgestaan het.

Volpunte aan Niel Marais, wie se sewe strafdoele ʼn Curriebekerrekord is.

Daar is min geskop – deur albei spanne. Hardloop was die wagwoord, en omkeerbesit en foute is gebruik om mee te hardloop.

Die bal is ook dikwels omgekeer, deur al die voorspelers wat almal daarmee behulpsaam was.

Tog was dit nie ʼn baljagter nie, maar wel die groot vaskopflank Uzair Cassiem wat uitgetroon het. Hy het gedra, aangesluit en verdedig soos ʼn mens min sien.

Hy was speler van die wedstryd en het ʼn baie goeie seisoen met ʼn skitterende vertoning afgesluit.

Puntemakers –

Vrystaat Cheetahs 36 (18): Drieë: Clayton Blommetjies, Sergeal Blommetjies. Doelskoppe: Strafdoele: Neil Marais 7, Fred Zeilinga. Doelskop: Zeilinga.
Blou Bulle 16 (9): Drie: Piet van Zyl. Doelskop: Joshua Stander. Strafdoele: Tian Schoeman 3.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Koos ·

Wel, elke span het soms ‘n afdag, en gelukkig vir die Bulle was vandag die Vrystaat s’n

Frans C ·

Die Vrystaat het verdien om die wedstryd te wen.Maar daar is ook ‘n skadukant daaraan vir Suid Afrikaanse rugby en dit is dat twee faktore Suid Afrika se rugbykrag skeef trek.
Die eerste faktor is geld en was groot bedrae geld gekoppel aan aanloklike kontrakte bv
by die Leeuspelers belangriker asom die Curriebeker te verdedig.

Die tweede faktor is die oormaat van Internasionale rugby en die groot groep spelers
wat die nasionale keurders oproep en waarvan sommige nooit speel nie en net op die bank sit.

Die gevolg is dat daar nooit kontinuiteit by die spanne is,soos by die Vrystaat, waar die die spanne meeste bydra tot die Springbokgroep . Eintlik begin die afrigters van die Sharks, WP en Leeus weer van vooraf want min spelers in die Provinsies het al saamgespeel en kombinasies ontwikkel en was dit veral by die WP ‘n gesukkel.

‘n Mens kan maar net hoop dat Blou Bulle en die Vrystaat nie dieselfde paaidjie loop as wat die ander provinsie geloop het nie, want net soos een swaeltjie nie sommer maak nie,kan ‘n Curriebekerkampioen nie Suid Afrika weer ‘n rugbykrag maak nie. Dit het die opgang en ondergang van die Leeus te wyte aan die faktore genoem duidelik bewys.

Die toekoms van Suid Afrika se rugby lê mi in die ontwikkeling van minder maar sterker provinsiale of streekspanne in ‘n kompetisie waarin die spanne min of meer van gelyke sterkte is want weghol oorwinnings bly net wat dit is en bevorder nie rugby nie.

Johann Marx ·

Ek sien flou bul supporters in PTA het nou soveel respek hulle stop by oranje verkeersligte…

Nico K ·

Ja, Die Cheethas het hierdie een verdien, en dit is goed om hulle weer ‘n slag as die top span te sien. Hulle het werklik ‘n goeie span en kom ons kyk of hulle nie ‘n beter superreeks kan speel nie. (As hulle al hulle al hul spelers kan behou.)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.