Vrystaat bevestig Goue Bekerspan

Die Vrystaatse Rugbyunie (VSRU) het sy deelnemer aan SA Rugbyunie (Saru) se internasionale reeks om die Goue Beker bevestig.

Bloemfontein Polisie sal, soos verlede jaar, die bond se vaandel teen die res van Suid-Afrika, Namibië en Zimbabwe se beste oop klubs dra.

Die reeks om die Vrystaatse verteenwoordiger te bepaal, sou eers op 29 Julie ten einde loop, maar twee van die Eerste Ligaklubs het aan die tweede ronde onttrek, en die Bobbies se aanspraak is bekragtig.

Die klub het vroeër ook die Rowanbeker (oop klubs) gewen toe hy Bloemfontein Collegians met 62-5 in die eindstryd platgeloop het.

Hy het eweneens onderling die Tweede Liga B gewen toe die Polisie-jongspan die klub se tweede span met 58-8 oorrompel het.

Die Vrystaatse Universiteit (UV) se Ritsems (derde span) het die Tweede Liga A gebuit deur die Sentrale Universiteit vir Tegnologie (SUT) se Tjisas met 38-17 te verslaan.

Pale Toe! het reeds vroeër berig dat die UV se keurbende, die Shimlas, die Stadsbeker ingepalm het deur SUT se Ixias met 54-34 af te ransel.

Wat die Derde Liga betref, het die Shawas (SUT) die A-afdeling gewen deur Mangaung II met 40-0 te verniel; en Oud-Greys II het Collegians III met 32-7 baasgeraak om die B-afdeling in te oes.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.