Vrystaat Cheetahs se groot uitdaging lê nou voor

Nou weet ʼn mens dat daar ʼn yslike gaping tussen die Curriebeker se Premierliga en die Eerste Liga is.

Die Vrystaat Cheetahs het Dinsdag in die Vrystaat-stadion weinig probleme gehad om hul Curriebeker-status te behou deur die SWD Arende se stertvere verspotmaklik met 36-5 te pluk.

Ja, dit was nie die Vrystaat Cheetahs se Curriebeker-span wat deur die seisoen nie die mas kon opkom nie, maar eintlik maar hul Pro14-span. Maar in hierdie dae waar die meeste spanne op meer as een vlak hul man moet staan, is daar seker nie dáármee fout te vind nie.

Daar is boonop die waarskynlikheid dat die Vrystaat se diepte en gehalte in die nabye toekoms vermeerder kan word wanneer die finansiële voordele van hul deelname aan die oorsese reeks begin werklikheid word.

Rustyd was die telling al 19-0 en was die twee spanne se toekoms vir 2019 se Curriebeker-seisoen bepaal. Die drie drieë van die Cheetahs in dié helfte is met nog drie in die tweede helfte opgevolg.

Die gevaarligte is egter duidelik: as die Cheetahs nie, met óf sonder die Pro14-meevaller wat wag, hul Curriebeker-span in orde kry nie, hoort hulle nie in die Curriebeker se Premierliga nie.

Is daar realistiese planne om te voorkom dat die Vrystaat Cheetahs aanstaande jaar ses uit ses verloor, die eerste twee daarvan met 12-34 teen die Blou Bulle en toe met 0-32 teen die Westelike Provinsie? En dit met ʼn feitlike Pro14-span?

Miskien word die belofte dat die twee reekse nie sal oorvleuel nie, oor ʼn seisoen of twee werklikheid.

Maar soos sake nou staan, is daar intussen met reg rede om bietjie fees te vier. Die Cardiff Blues is Saterdag oortuigend in die Pro14-reeks in Bloemfontein geklop, die Vrystaat se Curriebeker-status is behoue en daar is die uitdaging om Sondag die derde keer in agt dae in Bloemfontein ʼn oorwinning te behaal wanneer Munster ʼn Pro14-draai daar gooi.

Puntemakers –

Vrystaat Cheetahs (19) 36: Drieë: Strafdrie, Rabz Maxwane, Tian Schoeman, Louis Fouché, William Small-Smith (2). Doelskoppe: Fouché (2).
SWD Arende (0) 5: Drie: Vuyo Mbotho.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Kiewiet ·

Se weer die Cheethas moet elke jaar met in nuwe span begin. Jong manne wat so in indruk maak deur die jaar dat meer as die helfte van hulle deur ander spanne aan die einde van die jaar gekoop word. Wys maar net weereens die rugby fabriek is in Bloemfontein.

Supporter ·

Kiewiet, elke span in die land verloor jaarliks spelers. Die twee provinsies wat die meeste spelers jaarliks binnelands verloor is Boland en SWD. Die twee spanne wat die laaste 3 jaar die meeste spelers aan oorsese klubs moes afstaan is WP en Blou Bulle. Dit is bewys in meer as een gesaghebbende publikasie. Ja die Cheetahs staan spelers af maar nie die meeste nie. Ook, gaan tek hoeveel spelers het die Cheetahs die laaste drie jaar gekoop, dis baie hoor. Vir Cheetahs gaan dit erger word, in Pro14 word hul spelers raakgesien en gaan baie aanbiedinge uit Europa en Japan kry, net soos WP en Blou Bulle. Dis professionele sport. So ook en Europese voetbal en Amerikaanse bofbal en Grid Iron. Dis dus nie net die Cheetahs nie

GL ·

Die Weskaap en Ooskaap is die rugby fabriek, nie die Vrystaat nie. WP, OP, SWD en Boland verloor talle meer spelers as Vrystaat. Nog iets, vlieg op ‘n Maandagoggend vanaf OR Tambo na Bfn, kyk hoe gepak sit die vliegtuig van Gauteng skoolseuns wat in Grey Kollege is. ( sien rugby balkies om te bevestig hulle speel rugby). Met ander woorde as daardie speler na matriek of onder 19 erens anders gaan speel, kan Vrystaat nie aanspraak maak op hom nie. Monnas of Helpies het hom in die eerste plek verloor agv “meer gunstige skookfooie”. Dis maar ‘n tweesnydende swaard. Alle spanne werf, alle spanne staan spelers af.

Frans C ·

Dat Suid Afrikaanse rugby in ‘n chaotiese toestand is,is mi ‘n feit.Ons Nasionale afrigter
doen nog proefnemings om te bepaal wat die beste kombinasies is.’n Span soos die Lions
het gesukkel om die dienste van hul Springbokslot Mostert te behou,maar verloor die stryd.

Dus begin die span nadat ‘n groot deel van sy voorspelerspak se kern weg is,weer van vooraf.Superrugby begin op 15 Februarie 2019 met ‘n wedstryd tussen die Chiefs en Highlanders.

En raai wat.Op 31 Oktober 2018 word NZ se Superrugbyspanne bekend gemaak en is die name van die 190 spelers ,38 per groep bekend.Dit is meer as 3 maande voor die 1ste wedstryd, En in Suid Afrika weet ‘n mens niks,want inkopies is nog aan die orde van die dag, deur plaaslike en oorseese spanne.

Is dit dan nie ‘n wonder dat NZ die rugbytoneel oorheers ,omdat hul soveel beter as ons georganiseerd is en ons spanne worstel soos die opskrif van hierdie berig aandui.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.