Vrystaat/Cheetahs verdien nie dié dwarsklap

(Foto: fscheetahs.co.za)

Daar is ʼn ou gesegde wat lui dat jy die dag huil wanneer jy in die Vrystaat aankom, maar wanneer jy ná jare die provinsie moet verlaat, huil jy nog erger.

My pa is in Kestell in die Oos-Vrystaat gebore en het daar grootgeword.

Hy het altyd met groot heimwee van sy sorgelose kinderdae vertel, van kleilatgooi langs die spruit, tot bergklim en rugbywedstryde vir die skool en dorp teen die bure – veral teen Bethlehem en Harrismith.

Hy het later na Pretoria verhuis, waar die gesin wortelgeskiet het.

My pa was van toe af ʼn Blou Bul, behalwe wanneer die Vrystaat gespeel het, want dan het hy nie kant gekies nie.

Eenmaal ʼn Vrystater, altyd ʼn Vrystater.

Van jongs af is ons ook vertel hoe die Vrystaat rugby speel, want dit is mos hoe rugby gespeel móét word.

Dit was altyd ʼn plesier om begaafde spelers soos Gysie Pienaar, Gerrie Germishuys,  André Joubert, Chris Badenhorst, Jan Schlebusch, Dirk Froneman, Frans Steyn, De Wet Ras, Jackie Snyman, Ruan Pienaar, Barry Wolmarans, Werner Swanepoel, Sakkie van Zyl, Wouter Hugo, Ollie le Roux, Martiens le Roux, Rampie Stander, Theuns Stofberg, Gerrie Sonnekus, André Venter, AJ Venter en Rassie Erasmus in aksie te sien.

Daar was hordes en hordes ander spelers wat net so begaaf was.

Daar is net tien klubs waaruit gekies kan word, maar hoeveel keer het die Vrystaat-Cheetahs nie die mas opgekom nie?

As joernalis was dit altyd lekker om oor Vrystaat verslag te doen, want jy is nooit teleurgestel nie. Al het die span ook verloor, was daar altyd iets of ʼn paar spelers om oor opgewonde te raak.

Maar namate die jare aangestap het en die geldwolf by die voordeur ingeglip het, het die ryker bonde die Vrystaat se kas byna leeggestroop … tot ʼn volgende jaar.

Dít is hoekom dit so onregverdig is dat die bond weer ʼn keer opgeoffer word om plek vir die sogenaamde vier grotes in die Pro14-reeks te maak.

Jare gelede het die Vrystaat-Cheetahs ook aan die agterspeen gesuig toe hy onsuksesvol saam met die Leeus eers as die Golden Cats en toe as die Cats in die Superreeks gespeel het.

ʼn Paar jaar gelede is die Cheetahs saam met die Southern Kings uit die Superreeks geskop en die wortel van deelname in die Pro14-reeks is voor hul neuse gehang.

Dit was ʼn groot aanpassing, somer teenoor winter, sonskyn teenoor reën, sagte teenoor harde velde.

Die Cheetahs was die proefkonyn, maar hulle het hul man gestaan, hoewel hulle nou weer langs die kantlyn gedwing is.

Ja, daar is sprake van ʼn ander reeks, maar hoekom nie een van die ander spanne nie?

Uit ʼn rugbyoogpunt, hoe kan jy die huidige Curriebekerkampioen opoffer? Hoe kan jy ʼn span wat sedert 2005 die Curriebeker vyf keer gewen het, onder die alie skop?

Hoe kan jy ʼn span wat sedert 1912 (Boetie McHardy) reeds 87 Springbokke opgelewer het, vir die wolwe gooi?

Die Suid-Afrikaanse rugbybase het byna eenparig daaroor gestem om die Cheetahs uit te skop, maar wat gaan die dag gebeur wanneer die voerband om spelers vir ander bonde/franchises te lewer, breek?

Wat gaan gebeur as die kraantjie opdroog?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Dup

Ware woorde.Ongelukkig praat mag en geld die hardste.

Adam Adriaan

Soos reeds gesê sal daar in die toekoms net ge lees word van die Springbok seges. met die inmenging en besluite wat nou geneem word. Kinders sal net by hulle oupas hoor dat daar so goeie gehalte rugby in SA gespeel was. Alles wat deur die regering beplan in die toekoms is nie papier wêrd waarop dit geskryf is nie. Die Cheetahs is in die gesig gevat. Sal nie verbaas wees as daar ook korupsie betrokke by is nie. Waaraan moet daar nog aangevat word om alles te vernietig?

annie

Die bestuur het moontlik net te lank gereken op die lojaliteit van die ondersteuners en die unie bestuur asof hul eiendom en die spelers soos arbeiders. Soms kom daar ‘n erge einde aan ‘n toneelstuk en dan noem ons dit ‘n tragedie.