Vrystaat Cheetahs verorber Sharks

Junior Pokomela en Kobus van Wyk tydens die kragmeting tussen die Cheetahs en die Sharks, Saterdag 31 Augustus 2019. (Foto: Twitter via @CheetahsRugby)

Daar is bitter min dinge in rugby wat kan kers vashou by fiksheid, passie, om drieë te druk en om vir mekaar om te gee.

Dit het die Vrystaat Cheetahs Saterdag op hul tuisveld die soveelste keer in vanjaar se Curriebeker-reeks bewys toe hulle die Sharks met 51 – 30 verfomfaai het.

Dink maar terug aan die Springbokspan van 1995. Toe dit destyds werklik saakgemaak het teen die All Blacks (en die Franse in die halfeindstryd), het hul fiksheid hulle die botoon laat voer.

Ja, daar was baie ander dinge ook wat ʼn rol gespeel het, maar fiksheid en passie is twee van die grootste hoekstene van sukses, want dit lei tot selfvertroue, tot momentum en om die basiese dinge reg uit te voer, om die uitklophou te plant.

Net soos verlede week teen die Westelike Provinsie, het die Vrystaat die Sharks ook van hul voete afgehardloop nadat hulle in ʼn stadium agter was.

Die rustydtelling was terloops 20 – 11 in die Sharks se guns, maar toe die damwal gebreek het, was daar geen keer aan die tuisspan nie.

Ai, dit was lekker om voor- en agterspelers so te sien kombineer, om hulle op volle vaart bewegings te sien uitvoer, om geleenthede vir mekaar te skep en ander te benut.

Dit gaan volgende Saterdag die Vrystaters se voorreg wees om aan hul hoofafrigter, Franco Smith, ʼn gepaste afskeidsgeskenk te gee voordat hy na Italië vertrek om Azzurri af te rig.

Die vraag is: hoe kan ons dit bekostig om sulke bedrewe afrigters aan die buiteland af te staan?

Die eerste helfte het maar valerig verloop met albei spanne wat nie hul kanse gebruik het nie.

Maar toe volg die metamorfose, gelei deur Ruan Pienaar, William Small-Smith, Jasper Wiese (die span het in swart armbande gespeel uit eerbied en respek teenoor sy gesin nadat sy suster op die vooraand van die wedstryd in Kaapstad deur ʼn bus doodgery is),  Ox Nche, Junior Pokomela en Joseph Dweba.

Dit was die kant toe en dan daardie kant toe, voor- en agterspelers het gebaljaar en die telbord vertel die verhaal.

As hulle so speel in die eindstryd teen die Goue Leeus gaan daar net een wenner wees, hoewel die Leeus geensins onderskat moet word nie.

Vir die Sharks was hul Bok-losskakel, Curwin Bosch, op sy kop met twee puik drieë, terwyl die jong skrumskakel Sanele Nohamba weer getoon het watter vaardighede hy het.

Maar in Bloemfontein loop ʼn span rond wat nie weet hoe om op te gee nie.

Puntemakers:

Vrystaat-Cheetahs 51 (11): Drieë: Junior Pokomela (2), William Small-Smith, Ruan Pienaar, Joseph Dweba, Ox Nche, Jasper Wiese. Doelskoppe: Pienaar (5). Strafdoele: Tian Schoeman (2).

Sharks 30 (20): Drieë: Curwin Bosch (2), Sanele Nohamba, Lwazi Mvovo. Doelskoppe: Bosch (2). Strafdoele: Bosch (2).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

54 Kommentare

Barnard ·

As Lions supporter wil ek net vra: Hoekom is Cheetahs toegelaat om te speel tydens “substitution”. Die reel is duidelik: spel moet gestop word. Ook, daar was n duidelike aanslaan van die Cheetahs voor een van hul drieë maar die ref het besluit dis agtertoe. Duidelik verkeerd. Ook ‘n baie duidelik late tackle op Fassi. Daar was vanjaar al geel kaarte vir sulke insidente uitgedeel. Daar was ook n duidelike vorentoe aangee deur die Cheetahs maar die ref het besluit om nie “boontoe” te gaan nie. Nog ‘n duidelike fout. Sulke dubbele standaarde maak dat minder en minder mense rugby kyk. Ek hoop aanstaande week is daar konsekwente skeisdsregter besluite

Nelis ·

As Lions supporter wou jy met alle mag he die Sharks moet wen. Die ref was nie sleg nie. Het foute gemaak, albei kante toe.. As die Cheetahs se een drie soos Kurwin sin was het almal geskree dit was obstruksie en die ref is verkeerd. Hoekom moet n span die geleentheid geweier word om n bal vinnig in te gooi? Ek het nie die Sharks een keer gesien dat hulle eers vra of daar plaasvervangers opkom voor hulle n bal vinnig ingooi nie? Dit is tog die span wie die plaasvervanger opbring se verantwoordelikheid om dit op die regte tyd te doen en seker maak die tyd is gestop? Soos bv met n scrum? Dit was n wettige vinnige ingooi en die Sharks was aan die slaap gevang. As die n werklike reel is gaan dit die hele game spoil.

Johan ·

Net snaaks dat as die game nie julle way gaan nie (wou gehad het die sharks moet wen vir julle home final) dan word die ref geblame. As die Sharks gewen het sou jy as lions supporter niks te se gehad het nie. Begin maar solank jou ref blame briefie tik vir die final.

Boertjie ·

Hou op huil, die sharks was eenvoudig nie goed genoeg nie, sorry pel!

Stier ·

“Haak Vrystaat haak, haal hom uit heel onder. Met ‘n bal teen my lyf wil ek doelyn toe dryf, haak Vrystaat haak”. Go Cheetha’s.

Dassie ·

Met die ref aan ons kant, wie sal ons klop? Jaaaa Stier, jaaa Stier

Stier ·

Dassie, ‘n 21 punte wen is nie agv een of twee skeidsregter foutjies nie. Al het die ref vir die sharks geblaas het hul nog steeds verloor. Die Cheetahs het die sharks in 2 de helfte van die veld af gespeel.

Antione ·

Dassie gaan pak nou tassie! Julle het verloor boetie! Word groot en vat die hou op die ken

Bloemfonteiner ·

Mooi so my Cheetahspan! Ons was gelukkig, die 50-50 calls het ons kant toe gegaan, maar ‘n wen is ‘n wen

Dawid ·

Nie net die 50-50 calls nie, ook die 95-5 calls. Swakste skeidstegter optrede van die jaar

Nelis ·

Swakste kommentaar van die jaar award gaan aan…. Dawid. Geluk, bewys dat jy geen idee het wat op n rugby veld aangaan en nogsteeds die guts het om kommentaar te lewer

WP supporter ·

Geluk Cheetahs, ek voel jammer vir die Sharks, dis duidelik dat daar opdrag was dat daar twee stelle reels geblaas is vandag. Sharks is te na gekom

Werner ·

Die skeidsregter is n onderwyser in Kimberley. Die Cheaters/Cheetahs is n Pro14 span. Daar kon hulle net 6 uit 46 wedstryde wen. Hulle hoort nie in die CC nie.

Nelis ·

Kry n nuwe sport. Jy het absoluut geen idee wat in rugby aangaan nie en mense soos jy doen die sport skade met jou aantuigings. Die Cheetahs as span is n welverdiende span, 22 jong manne wat hard oefen elke en alles op die veld gee. Die sport het nie jou swak opmerkings nodig nie.

Stephan ·

Ek is self n Skeidsregter en gister se wedstryd is deur Franco se Cheater Span gewen agv van skeidsregter blapse wat hulle bevoordeel het asook n Lynregter wat soos n skoolseuntjie by sy Skoolhoof gaan tjank het omdat die “Sharks oom ” hom n harde tyd gegee het en daarna het hy geen foute van Cheaters aan Skeidsregter uitgewys nie. Ek is n Bul man en die Leeus gaan Cheaters nie met tricks laat wegkom nie.

Dewald ·

Stephan, self geleerde skeidsregters se menings tel nie. As jy enigsins n skeidsregter was sou jy geweet het n span kan nie cheat op die veld nie. Al manier hoe n span kan cheat is met verbode middels (Lions se Dyantyi), of die ander span se kos voor die game saboteer of iets van die aard. As die skeidsregter n blaps maak hoe kan die span van cheating beskuldig word? En ja, die ref het blabse gemaak soos enige ref in enige game maak na beide kante maak. Ek het nie gesien waar die een span bo die ander bevoordeel was nie. Dalk het die Cheetahs geleer om vinniger met die ref se blaas styl aan te pas aangesien die Pro14 refs baie streng is en heeltemal anders as die local refs blaas. Dis ook deel van die sport om by die ref te kan aanpas. Sommige laat minder as ander toe en pas reels meer streng as ander toe.

Peet ·

Werner, ek is seker dat nie eers jý weet waarvan jy praat nie!

Travis ·

Peet en Nelis, julle kan sê wat julle wil, feit is Cheetahs is ernstig bevoordeel

Petrus ·

Dankie Peet. Dinge is bietjie meer kompleks as wat Barnard verstaan. Deur die jare het Cheetahs spelers vaardighede geleer wat ander spanne met dik beursies opgeslurp het. Jy sien, jare gelede het ‘n eerbare joernalis gesê rugby is ‘n skaakspel van stadions – as jy nie groot provinsies is met gevulde stadions nie maak “ons” nie geld nie.
Dan dwing jy die kleiner manne om gedurig van hulle bestes af te staan aan ‘rent-a – player’ franchises.
Terloops die skeidsregter was defniteif nie aan Cheetahs se kant nie. Het die laaste twee weke weer rugby geniet soos nog nooit!

Klippies ·

Ja nee Werner, bietjie genoeg klipdrift vir jou vir eers !

Boertjie ·

Swak verloorders, dis moes altyd die manne op die kantlyn wat dink hulle ken die game! Lekker huil boys, dit traak ons glad nie????

Nelis ·

Travis, jy kan jou opinie vrylik gee, maar dit maak jou opinie nie reg nie. Die skeidsregters word gemoniteer en beoordeel deur opgeleide mense wat weet wat aangaan. Die eensydige ondersteuner se mening maak egter nie saak nie. Dalk moet die Sharks bietjie beter speel om n tuis semi finaal volgende keer te kry. Hou op moan en aanvaar die verloor

tinker ·

Ag ek is so trots op my span. Wat ek net baie snaaks vind is dat dit altyd die skeidsregter se skuld is as die ander span verloor. Wat nog snaakser is is dat ek gedink het dis net n bul verskoning, nou kom ek agter die visse speel ook daai kaart. Ag so jammer vir julle.

Kerneels ·

As Bull-ondersteuner (hou dit maar stil) baie geluk aan die cheetahs, uitstekende rugby gespeel, sterkte vi volgende saterdag. Aan al die kermg@tte: gaan speel rolbal!

Boesman ·

Ja Kerneels, ek stem saam met jou. Dit is net suur druiwe van hierdie klomp kermg*tte. Sulke ouens sal altyd fout gaan soek by die skeidsregters, lynregters en wie ook al. Go Cheetahs go!

Werner ·

Peet, hoekom toets jy nie my opmerkings nie. Dalk is jy bang vir die waarheid.

Nelis ·

Jou 6 uit 46 games is reeds verkeerd en wys jy het nie jou feite agter mekaar nie en is reeds bewys van swak karakter wat twak praat. Geen rede om eers verder in jou opmerking te kyk nie.

Henry ·

Uitstekende vertoning Cheetah’s!
Ruan is ‘n yster wat julle rigting en inspirasie gegee het.
Vreet daai Jo’burg Laaihins!

Buffel ·

Suur druiwe kolla amper soos in kraantjie wat afgegaan het. Eintlik asyn. En dit omdat die WP NIE eers die play offs gemaak het nie, ha ha wat ‘n grap magtige wp ??? Klomp sirkusnarre as jy my vra.

kolla ·

Steeds beter as die nulle gevaar sonder ons menigte Bokke wat nou weer SA Rugby moet red van ‘n verleentheid in die RWB.

Buffel ·

kolla wie praat van die bulle hulle was vrot wonder hoekom die “magtige wp” met al hul speler development according to you toe nie die play offs gemaak het nie

kolla ·

Ek dog jy’s ‘n nulle ondersteuner maar goed vir jou as jy nie is nie. Die ander koop ons splelers amper vinniger as wat ons kan ontwikkel. Pateties, die ander unies moet bykom.

John ·

Hoe kan spanne meeding wie se beste spelers uitgeroep is vir die Bokke? Met ander woorde hulle moet dan tuis verloor as straf. Sulke gelyktydige toernooie verminder belangstelling, maar die rugbybase kon nog nooit ‘n bal uitgooi nie… net hol vir die eie ek… en oppas die een wat dit durf waag om ‘ek’ te duik…

Nelis ·

En nogsteeds het die Sharks baie baie meer springbokke in hulle span gehad en nogsteeds kla julle?

Apools ·

Suur druiwe oor die province weereens bewys het hoe swak hulle is. Hul moet sport pienaar toe of sommer atlantic league dis hul level daai. Go Lions.

Apools ·

Kolla ons dink nie terug na Jan v riebeek teen harry die strandloper nie ons praat van 2019. Wp is vrotsleg, super rugby en Currie cup albei.

Frans C ·

Kom ons vergeet van die skeidsregters.Hulle was in beide halfeind nie goed nie.
Wat van die rugby ?Die Cheetahs het weereens bewys hoe langer ‘n span saamspeel hoe groter is hul kans op sukses. Dit is deur die Jaquars bewys wat nou weer ‘n span ingeskryf het wat die eerste liga gewen het.Onthou die die Cheetahs is uit die Superrugbyreeks geskop omdat hul nie goed genoeg was nie.
In die Pro 14 2018-2019 kon hul slegs 8 uit 21 wedstryde wen met 1 gelykop. Hulle het
6de uit 7 in afdeling ‘A’ geëindindig.

Om mekaar af te kraak of een span op te hemel soos die skrywer sê niks van die gehalte
van Suid Afrikaanse rugby of die kommentators nie.Die Sharks voel die verlies van du Preez broers,of jy nou van hulle hou of nie,deeglik.Die feit dat Pienaar
na byna ‘n dekade? kon terugkeer en sulke goeie spel lewer bewys weereens hoeveel aan gehalte Suid Afrika verloor met spelers wat oorsee gaan.

Die Cheetahs is ongetwyfeld die beste van ‘n klompie middematige spanne.Die groot
gevaar vir Suid Afrikaanse rugby is dat hul as Curriebekerkampioene SA rugby in die Pro 14 gaan verteenwoordig en nie goed doen nie.Dink net hoe die Britse pers SA rugby gaan afkraak as hul weer so swak vaar.
Dus terwille van SA rugby hoop ek dat as die Cheeahs wen hulle ons nie weer gaan terleurstel nie.

Nico ·

Franc C, el het hoeveel keer gesê en ek sê dit weer. Alle jong seuns en veral die blanke seuns as julle in graad 11 en 12 reken julle het dit om internasionale vlag te speel gaan DADELIK NA METRIEK oorsee. Hier raak jul kanse alhoe swakker om vir hul land te speel. Die begin nou bitter stadig gebeur. Die rugby wat ons nou sien raak alhoe swakker. Sal dit nie lekker wees as sê bv. ‘n Franse of Ierse span kon klop ons hier oor so 10 of wat jaar met ons eie seuns van wie net enkeles hier sou plek kry

Frans C ·

Die ‘wet’ op plaasvervanging lees:
Team 3 (6) Replacements are made only when the ball is dead and only with the permission of the referee.
Die Bal was dood toe die Sharks spelers vervang het.Die vrae is(1) het hul die skeidsregter se toestemming daarvoor gehad en (2) kan ‘n bal wat ‘dood’ is weer in so’n geval ‘lewendig’ gemaak word met ‘n vinnige ingooi deur die span wat die bal by die lynstaan sou ingooi het indien ‘n normale lynstaan plaasgevind het?

AndrewL ·

En nie een oppertunistiese drie nie? Mens kan sien die Bulle speel deesdae net om rooi en geel kaarte te versamel.

Peet ·

Werner, ek het kommentaar gelewer eerstens oor jou snedige opmerking oor die skeidsregter se beroep. Tweedens omdat jy reken ‘n Pro 14 span hoort nie in die Curriebekerkompetisie nie. Wie hoort dan daar? Net Superrugbyspanne? Net spanne wat nie een van die twee is nie? Dit los ons met Griekwas, die Pumas en al die ander spanne wat in die ander afdeling gespeel het. Genade, dít gaan opwindend wees! Terloops, ek is ‘n Blou Bul ondersteuner…

Nic ·

Die bal is eers dood as die lynstaan gevorm is of as die skeidsregter sy fluitjie blaas of iemand anders as n speler die bal buite die grens raak!Gaan kyk mooi!Die vleul vang die bal direk en maak van die begin af sy intensies duidelik om vinnig in te gooi!Die lynstaan is nog nie gevorm nie en die skydsregter kyk wat maak die vleul !Nog nie geblaas nie!Swak tydsbereking van amateur Sharks staff!

jakes ·

Geluk aan die Cheetahs, hulle het verdien om te wen. Soos gewoonlik het die Sharks in die tweede helfte min weerstand gebied. Toe Fassi afgaan toe vou die Sharks. Ek is steeds van mening dat die Shark spelers se egos groter as Tafelberg is. Die Sharks franchise stel meer daarin belang in wat buite die speelveld gebeur as op die speelveld. Ek glo ook dat hulle swak afgerig is dat hulle ietwat onfiks voorkom. N gebrek aan visie op die veld tydens wedstryde is algemeen en somtyds reageer hulle soos narre by n sirkus.

Werner ·

Peet, die skeidsregter is n onderwyser in Kimberley, wat daarop sinspeel dat hy sy Bloemfontein-maatjies bevoordeel het. Hy het die Kwas ook in die wedstryd probeer hou teen die Leeus in Kimberley.

Werner ·

Peet, die skeidsregter is n onderwyser in Kimberley, wat daarop sinspeel dat hy sy Bloemfontein-maatjies bevoordeel het. Hy het die vorige naweek ook gehelp om die Kwas in die wedstryd te hou teen die Welpies.

Judge Dredd ·

So Vrystaat B span het Vrystaat A span geklop – kyk maar hoe word Vrystaat B span nou weer leeg gekoop.

Ruaan ·

Ek myself is n shark ondersteuner en wonder myself oor daai lynstaan en aanslaan van die vrystaat. Maar nietemin die sharks was swak, en die vrystaat het hulle stukkend gehardloop.

Goggadons ·

As iemand van 300 dae van die jaar met rugby tedoene het, van bulletjie rugby tot klub rugby, vind ek die kommentaar rerig belaglik. Of dit goeie spel, vuil spel en of die skeidregter een span bo n ander bevoordeel het, is totaal irrelevant. Wat mense deesdae vergeet, is die klein werkswoordjie wat aan rugby gekoppel word: “speel”. Daar is meer politiek in sport, as in ons parlement. As helfte van almal wat so polities passievol is oor rugby, kan saam staan en polities passievol kan raak oor dinge wat rerig saak maak vir ons kinders se toekoms, sal SA n baie beter land wees om in te bly…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.