Vrystaat sal hul nie aan die verlede steur nie

currie cup logo 2016.jpgDie Curriebeker bly maar spesiaal – en Saterdag (16:00) se volgepakte stadion in Bloemfontein waar die Vrystaat Cheetahs en die Blou Bulle in die eindstryd speel, is voldoende bewys daarvan.

Die groot skares by die halfeindstryde dui ook daarop dat die Curriebeker nog vir baie iets beteken, al is die reeks stelselmatig afgewater oor die professionele werklikhede.

Dit bly nietemin steeds vir Suid-Afrikaanse spelers ʼn eer en die hoogtepunt van ʼn loopbaan om in die eindstryd te speel.

Dis ook nie net Springbokke se deelname wat die kompetisie spesiaal maak nie. Neem nou maar 2011, toe die Bokke ook deur die seisoen afwesig was.

Die Goue Leeus het toe teen die ‘Boklose’ Sharks gaan staan en verloor, 9-53, en twee weke later die Curriebekereindstryd, dié keer teen die Sharks op volle sterkte en met al hulle Bokke terug, 42-16 gewen.

Een uit nege lees die Vrystaat se wenrekord in Curriebekereindstryde teen die Blou Bulle, met een wedstryd wat gelykop was. Bygesê, die Vrystaat se enigste oorwinning in 2005 was op Loftus. Dit was die tweede van drie opeenvolgende jare dat hierdie twee spanne in die eindstryd teen mekaar gespeel het.

Vyf van daardie Noord-Transvaalse oorwinnings was binne nege jaar tussen 1973/’81 in die dae toe niemand sou gewaag het om in ʼn eindstryd teen hulle te wed nie.

♦  Saterdag is dit egter ʼn ander tyd, ander reëls en ander kiesvereistes, insluitende die vrystelling van sekere Bokke vir die Curriebekerreeks, en die insluiting van anderskleuriges.

Tog, in hierdie betrokke wedstryd kan niemand dáároor kla nie. Die Bulle het Jamba Ulengo, Travis Ismaiel, Rudy Paige na Piet van Zyl se terugkeer van ʼn besering, Liso Gqoboka, Marvin Orie … en aan Vrystaatkant is daar opwinding net in die name Clayton Blommetjies, Sergeal Petersen, Raymond Rhule en Uzair Cassiem.

♦  Die Vrystaat is Saterdag die onteenseglike gunsteling. Slegs oorgerustheid en ʼn afdag van die Cheetahs wat alle spanne van tyd tot tyd tref, behoort die Blou Bulle nog ʼn titel een die Vrystaat te laat wen. Hulle sal glo die beker is hulle beskore, en basta met die verlede.

In die skrums sal die tuisspan die verlies van Ox Nché deeglik voel. Tóg, hulle het me enkele uitsonderings redelik ten die Goue Leeus gestaan. Hulle het skitterend en aggressief verdedig en goeie besit in die lynstane gekry.

Hoewel die totale besit en ook die onderskeie fasette redelik gelykop was, het die Cheetahs verspot-maklik gewen, 55-17 omdat hulle die gapings aangeval het.

Die  Bulle sal ongetwyfeld bedag wees dáárop. Hulle sal ook hoop Roelof Smit kan soos verlede week teen die WP balle by die afbreekpunte omkeer. Sy stryd met Paul Schoeman, en ook dié tussen die twee spanne se harde manne Cassiem en die Bulle se Jannes Kirsten is klaar die toegangsgeld werd.

Netso sal die stryd tussen Paige en Shaun Venter wees. Venter kan nie te ver van die Springbokspan wees nie, soos ook sy naamgenoot en kaptein, Francois wat die beste buitesenter in die land is maar (seker darem nog) nie die erkenning gekry het nie.

Die middelveld, en die stryd albei spanne se vleuels wat wéét hoe om besit te gebruik, beteken die twee spanne sal, selfs in ʼn wedstryd waar baie op die spel is, heelwat hardloop.

Dit kan ʼn riller wees, met Vrystaat die gunsteling. Maar as die Bulle nie kanse wegsmyt soos hulle soms geneig is om te doen nie …

Spanne –

Vrystaat Cheetahs: 15 Clayton Blommetjies, 14 Sergeal Petersen, 13 Francois Venter (kapt.), 12 Nico Lee, 11 Raymond Rhule, 10 Niel Marais, 9 Shaun Venter, 8 Niell Jordaan, 7 Uzair Cassiem, 6 Paul Schoeman, 5 Reniel Hugo, 4 Justin Basson, 3 Johan Coetzee, 2 Torsten van Jaarsveld, 1 Charles Marais. Bank: 16 Jacques du Toit, 17 Ox Nché, 18 Armandt Koster, 19 Henco Venter, 20 Tian Meyer, 21 Fred Zeilinga, 22 Rayno Benjamin, 23 Conrad van Vuuren.
Blou Bulle: 15 Ulrich Beyers, 14 Travis Ismaiel, 13 Dries Swanepoel, 12 Burger Odendaal, 11 Jamba Ulengo, 10 Tian Schoeman, 9 Rudy Paige, 8 Arno Botha (kapt.), 7 Jannes Kirsten, 6 Roelof Smit, 5 Marvin Orie, 4 Jason Jenkins, 3 Jacobie Adriaanse, 2 Jaco Visagie, 1 Lizo Gqoboka. Bank: 16 Bandise Maku, 17 Martin Dreyer, 18 Pierre Schoeman, 19 Nic de Jager, 20 Hanro Liebenberg, 21 Piet van Zyl, 22 Joshua Stander, 23 Bjorn Basson.

Afskop: 16.00
Skeidsregter: Jaco Peyper
Assistent-skeidsregters: Jaco van Heerden, Cwengile Jadezweni
Televisie-skeidsregter: Marius Jonker

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.